Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Uiteindelik kan vrou, kinders by man in NS aansluit

Al moet Christene Mitchell aan “daardie vliegtuigwiel vasbyt met ’n kind onder elke arm”, Maandagaand gaan hulle Nieu-Seeland toe.

Darryn en Christene Mitchell net voordat hulle sou emigreer en Darryn eerste na Nieu-Seeland getrek het. Foto: Facebook

’n Vreugdevolle lag borrel by tye uit terwyl sy nie weet wat om te vat of te los met die pakkery nie.

Die tyd is min en dit is ’n jaar en ses maande sedert sy laas haar man, Darryn, gesien en vasgehou het.

Nou, nadat sy en ander in dieselfde bootjie hul naels stomp baklei het teen die burokrasie en Covid-regulasies, het die goeie nuus gekom: Die res van die Mitchell-gesin mag uiteindelik Maandag vlieg.

“Dit is die beste gevoel ooit! Tot my kinders het nuwe lewe!”

Sy weet dit was net so erg vir die kleintjies van onderskeidelik twee en ses jaar oud toe hul pa op 1 Januarie 2020 solank na Dunedin is om sy nuwe werk te begin. Sy en die kinders sou in Mei 2020 volg.

“Ons het nog gewag vir een kind se visum. Intussen het ek my werk hier bedank, die medies is gekanselleer, my oudste is uit die skool gehaal,” onthou sy.

Hulle het by haar ouers ingetrek en uit hul tasse geleef, want alles was reeds óf verkoop óf op pad na hul nuwe tuiste.

“Ons sou mos enige oomblik op pad wees.”

Toe tref die Covid-pandemie die wêreld.

Ek bars uit my vel uit van opgewondenheid, maar ja, daar is ook gemengde gevoelens oor die familielede wat ons weer moet groet.

Mitchell onthou dit was ’n Donderdagaand 19 Maart 2020 toe hulle hoor alle grens- en toegangspunte na Nieu-Seeland is summier vir alle nie-inwoners gesluit.

Hordes mense op ’n Facebook-blad vir Suid-Afrikaners wat emigreer, was verstom gelaat.

Eers was die boodskap dat net sekere vlugte na Nieu-Seeland gestaak sou word.

“Ons het my en die kinders se vlug probeer vervroeg. Toe sê die emigrasieagent ons moet net wag tot 20 Maart en hoor of ’n lockdown beplan word. Alles was op hold . . . En toe hoor ons daardie Donderdag die 19de dat die grense die Vrydag toemaak,” sê Mitchell oor verlede jaar Maart.

Op 23 Maart 2020 is aangekondig dat Suid-Afrika ook vanaf 26 Maart ’n staat van inperking betree.

Die Mitchell-gesin was soos talle ander letterlik in twee geskeur met gesinslede in een land en die res vasgekeer in Suid-Afrika.

Toe begin die gesinne terugbaklei.

Christene Mitchell hou haar foon waarop haar man, Darryn, se gesig te sien is tydens ’n video-oproep in Mei vanjaar sodat hy die kuier by ’n reptielpark saam met haar en die kinders kon “meemaak”. Foto: Facebook

Mitchell vertel sy het omtrent elke minister toegegooi onder e-posse. Mense het petisies opgestel, vertel hoe traumaties die gesplete gesinslewe is, veral vir hul kinders wat in baie gevalle talle mediese en sielkundige probleme ontwikkel het.

“Daar was tot in Brittanje koerantberigte oor ons stryd en reisraadgewers het meer as die ekstra myl gestap om rolspelers van ons situasie bewus te maak.”

Intussen moes die verlange met video-oproepe gesus word. Elke keer as Mitchell en die kinders, steeds gestrand by haar ouerhuis, iewers heen gaan, is Darryn gebel dat hy die oomblik kon meemaak.

Toe versag die owerhede in Nieu-Seeland se hart uiteindelik verlede week.

“Ek bars uit my vel uit van opgewondenheid, maar ja, daar is ook gemengde gevoelens oor die familielede wat ons weer moet groet.”

Dit is die beste gevoel ooit! Tot my kinders het nuwe lewe!

Dan onthou sy haar man het altyd soggens vir haar koffie in die bed gebring.

“Ek hoop hy onthou dit as ons daar is,” lag sy.

Met hul aankoms in Nieu-Seeland gaan Mitchell en haar kinders eers vir twee weke in kwarantyn in ’n hotel wees.

Dit kos ’n fortuin en sy mag steeds nie haar man in daardie tyd sien nie.

“Maar, dit is wat dit kos as jy jou man mis. Niks gaan jou kan keer om hom te sien nie. Dan is die geld en ’n ekstra twee weke vergeleke met ’n jaar en ’n half se verlange die moeite werd.”

Meer oor:  Nieu-Seeland  |  Covid-19  |  Emigrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.