Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Uitgewer Koos Human sterf
Koos Human

Koos Human, uitgewer en stigter van Human & Rousseau, is pas oorlede in sy huis in Kaapstad.

Hy was een van die grootste geeste in die Suid-Afrikaanse uitgewersgeskiedenis.

Human (86) is op 29 November 1931 in Boksburg gebore.

Hy het in 1959 die uitgewersmaatskappy Human & Rousseau saam met Leon Rousseau gestig. Dié maatskappy het ’n beduidende bydrae tot die bevordering van die boekebedryf in Suid-Afrika gelewer. Human & Rousseau het in Februarie 2009 sy 50ste bestaansjaar gevier.

Human was ’n joernalis, skrywer, rubriekskrywer en musiekkenner. Hy het aanvanklik vir ’n B.Mus.-graad aan die Universiteit van die Witwatersrand ingeskryf, maar het hom later eerder op tale toegespits. In 1953 het hy sy studie daar voltooi  en onder leiding van C.M. van den Heever ’n verhandeling vir ’n M.A.-graad met die titel Die gewilde literêre werk: ’n ondersoek na die rol van leesstof in die hedendaagse samelewing geskryf.

Hy het onder meer as joernalis by destydse Die Vaderland gewerk. Hy was ook onderwyser en vertaler by die Vleisraad voordat hy in die uitgewersbedryf betrokke geraak het. Human & Rousseau het van die belangrikste letterkundige werke in Afrikaans uitgegee. Van dié boeke sluit in werke van D.J. Opperman, Elisabeth Eybers, Etienne Leroux, André P. Brink en Breyten Breytenbach.

Ná sy uittrede was hy redakteur van die meningsblad Insig en het ook gedien in die destydse Kaapse Raad vir Uitvoerende Kunste (Kruik) se musiekkomitee. Hy het tot in 2008 gereeld op Saterdae hoofartikels vir Die Burger geskryf. Hy was getroud met die geskiedkundige Trewhella Cameron. Hy het drie kinders gehad uit sy huwelik met, Nakkie, dogter van N.P. van Wyk Louw: Joan, Maria en  Jacobus Johannes.

Uit sy pen het onder meer verskyn: Die A tot Z van klassieke musiek en Met liefde aan moeder, ’n bundel essays waarin die moeder gehuldig word.

Human het in 1994 afgetree. Lees hier hoe Kerneels Breytenbach hom op sy 85ste verjaarsdag gehuldig het.

Hou Netwerk24 dop vir meer.

Meer oor:  Koos Human  |  Human & Rousseau
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.