Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Uithou, aanhou vir liefdadigheid
Johan Oosthuizen en sy vrou, Ronelle. Foto: Monique Basson

Kophou. Trap. Wakkerbly. Trap. Aanhou. Trap.

Ses dae. Altesaam 132 uur in die saal. En 4 992 km. Alles vir liefdadigheid.

Die fietsryer Johan Oosthuizen (40) van Uitenhage, stigterslid van die niewinsgewende organisasie Fuel on Wheels, gaan einde vandeesmaand die speke vir drie minder bevoorregte skole in die Oos-Kaap laat sing: die Laerskool Innes, die Laerskool Winterberg en die Northern Lights School.

Hy begin op 26 Maart om 12:00 by Aalwynrylaan 49 in Uitenhage en voltooi dié sesdagtog op 1 April. Die sirkelroete wat hy gaan volg, begin by Aalwynrylaan na Hexrivierweg, dan deur Graaff-Reinetweg en Daniel Pienaarstraat tot terug in Aalwynrylaan.

Oosthuizen hoop om minstens 160 rondtes van 5,2 km per dag te voltooi. Dit beteken 832 km per dag. ’n Allemintige 4 992 km oor ses dae.

“Die eerste rondte sal dit net ek, Ruané Wentzel (11), Jamie-Lee Barendse (25), Janecke Schuin (10), die Fuel on Wheels-span en die motorfietsklub, Entangled Freedom, wees,” sê Oosthuizen.

“Daarna is enigiemand welkom om saam met ons fiets te ry, te draf of te stap.”

Op Saterdag 1 April is daar ’n spesiale rondte ter herinnering aan Jayde Panayiotou.

Dit is iets wat regtig ’n verskil maak en iemand se lewe ten beste verander
Johan Oosthuizen

Die liefdadigheidstog word op 1 April by Danskraal in Cuylerstraat, Uitenhage, met ’n potjiekos- en boerewors-kompetisie afgesluit. ’n Dansparty volg om 18:30.

Toegang vir die dag is R20 per persoon.

Johan sê daar is ’n paar redes waarom hy so ’n groot uitdaging aanpak, maar dat dit hoofsaaklik gaan om mense met gestremdhede te help en om bewustheid te skep.

“Dit is iets wat regtig ’n verskil maak en iemand se lewe ten beste verander.”

Afgesien daarvan dat hy graag mense wil help met dié uitdaging, gaan dit ook daaroor om mense te wys dat jou drome verwesenlik kan word en dat ’n mens moet aanhou en deurdruk – al gaan dit soms moeilik.

“Ek hou daarvan om verskillende uitdagings aan te pak en ek is op ’n punt in my lewe waar ek nie meer my drome wil droom nie, maar dit wil uitleef. Ek doen dit om mense te motiveer om nooit tou op te gooi nie.”

En dan is dit ook die perfekte manier om Fuel on Wheels se eerste verjaardag te vier.

Dit is egter nie aldag kinderspeletjies om jou uithouvermoë tot die uiterste te toets nie.

“Dit is straf op die lyf, maar beslis die moeite werd,” sê hy. “Ek is bereid om alles in te sit.”

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Fietsry  |  Skole  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.