Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Uitspraak oor Engels ‘vertrap almal se regte’

Die uitspraak deur die konstitusionele hof dat die Universiteit van die Vrystaat (UV) se onderrigtaal voortaan net Engels is, is nie net ’n vertrapping van Afrikaanssprekendes se regte nie, maar van almal in Suid-Afrika se regte.

Só sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, oor die uitspraak verlede Vrydag. Die konstitusionele hof het in ’n meerderheidsbeslissing AfriForum en Solidariteit se appèl teen die UV se nuwe taalbeleid van slegs Engels as onderrigtaal verwerp.

Flip BuysFoto: Afrikaans.com

Buys sê in antwoord op prof. Jonathan Jansen, oudrektor van die UV, se stelling dat hy Afrikaans afgeskaf het omdat dit tot “segregasie” lei en omdat dit Afrikaanse studente bevoordeel, dit is ’n vertrapping van Afrikaanssprekendes se menseregte.

“Die logiese gevolge van die uitoefening van ’n regmatige reg is deur die grondwetskrywers voorsien, en kan nie nou gebruik word om die reg te negeer nie. Dis ’n vertrapping van Afrikaanssprekendes se menseregte, en reg op vryheid, gelykheid en menswaardigheid,” skryf Buys op sy Facebook-blad.

Jansen se erkenning dat Afrikaanse moedertaalonderrig goed vir Afrikaanse studente is, is ook nie ’n geregverdigde rede om dit van hulle af weg te neem nie, maar eerder om dit uit te brei na ’n ander taal as hulle dit wil hê, sê hy.

Dit word suksesvol op die Mafikeng-kampus van die NWU toegepas, waar dit gebruik word om eerstejaarstudente te help om akademiese Engels te bemeester. Goeie opleiding in moedertaal help om kennis ten beste in ’n tweede taal toe te pas.

Buys skryf dit is ’n glibberige glybaan as sekere grondwetlike regte nie toegestaan word nie. Die volgende kan eiendomsreg wees, wat weens die praktiese uitvoering wat tot ongelykheid en segregasie lei, en omdat dit wit mense sou bevoordeel, ook afgeskaf moet word. Net so vir mediavryheid, onafhanklike howe, ensovoorts. “Glo my, dis nie so vergesog as wat dit klink nie, ek moes al baie daaroor debatteer met totalitêre gelykmakers wat vryheid wil onderdruk.

Die hoofgebou van die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Argief

“Hierdie uitspraak is nie net ’n vertrapping van Afrikaanssprekendes se regte nie, maar van almal se regte.

“Gelukkig het ons altyd verwag dat sosialiste se totalitêre onderbou hiertoe (en verder) gaan lei, en maak ons planne voorsiening daarvoor. Op grond waarvan dink ’n rektor en ’n regter nou dat hulle ’n taal kan afskaf?”

Mashudu Mukhola, ’n politieke aktivis, se antwoord op Buys se inskrywing is dat Jansen en hoofregter Mogoeng Mogoeng nie reg is nie. Niemand kan die gebruik van Engels by die UV rasionaliseer nie. Die Vrystaat bestaan uit ’n meerderheid Afrikaanse en Sotho-gemeenskappe en daar is geen noodsaak vir Engels in die Vrystaat nie.

“As studente hul studies voltooi, gaan hulle terug na hul gemeenskappe, wat in die Afrikaanse en Sotho-gemeenskappe is . . . Ons kan nie streekstale en -kulture ignoreer om die swart elite te bevredig wat die Engelse taal aangeneem het om hul eie mense uit te sluit nie!”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.