Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Universiteit gee verlof as jou hondkind sterf

Die Universiteit van KwaZulu-Natal het vroeër vanjaar, sover bekend, die eerste werkgewer in die land geword wat aan personeellede menslikheidsverlof toestaan as hul troeteldiere doodgaan.

Ishana Gangaram by haar hond, Margo, wat in April dood is. Sy kon toe menslikheidsverlof vat.

Normah Zondo, waarnemende uitvoerende direkteur van korporatiewe verhoudings, sê personeel word een dag per jaar verlof toegelaat om oor die dood van ’n troeteldier te rou – mits die dier vroeër reeds by die universiteit geregistreer is. Die redenasie was dat baie werknemers se diere soos familie is.

Dié verlof is een van heelwat voordele in die nuwe diensvoorwaardes van die universiteit, om seker te maak die universiteit bly ’n werkgewer van keuse.

Ishana Gangaram, ’n administratiewe beampte by die skool van kliniese geneeskunde by die universiteit, is een van die personeellede wat al baat gevind het by die sogenaamde pawternity-verlof. Haar hond Margo, ’n kruising tussen ’n pool- en Duitse herdershond, was baie siek voordat sy in April op die ouderdom van 20 maande dood is. Margo het ’n geboortedefek gehad wat haar heupe en agterbene aangetas het. “Sy kon nie behoorlik loop nie en haar agterlyf het gesleep,” sê Gangaram.

Gangaram sê haar lynhoof het geweet Margo was baie siek en was simpatiek daaroor. Sy het gereeld van haar jaarlikse verlof gebruik om haar hond vir behandeling te neem. Sy kon ’n dag menslikheidsverlof neem toe Margo noodgedwonge van kant gemaak moes word.

“Voordat Margo dood is, het ek tyd gehad om totsiens te sê en te rou,” sê Gangaram.

Karin Matthews, bestuurder van R.I.Pets, ’n troeteldierverassingsdiens in Kaapstad, sê sy ondersteun die universiteit se besluit ten volle.

Sy sê hul kliënte ervaar reuse- trauma wanneer hul troeteldiere doodgaan. “Dit is vir hulle amper so erg soos om ’n kind te verloor. Hulle sê ook almal hul diere is soos hul kinders. Daar is daardie absolute pyn en seer.”

Sy sê mense het hul troeteldiere geweldig lief. “Dit is hul maat; hul getroue, lojale vriend.”

Sy meen ander maatskappye moet die universiteit se voorbeeld volg.

Dr. Gerrie Ebersohn, ’n prokureur van Randburg, sê dit is ’n wonderlike stap om vir werknemers menslikheidsverlof te gee wanneer ’n troeteldier doodgaan, maar “soos alles” is dit oop vir misbruik.

“Moet jy mense vra om te bewys die troeteldier is dood? Om te vra vir bewyse kan onsensitief wees, want moet jy nou ’n foto bring van die dooie hond of moet jy hom opgrawe?”

Hy sê dit is nie soos wanneer ’n personeellid ’n doodsertifikaat kan verskaf nie. Dit kan ook moeilik wees om te bepaal waar jy die streep trek.

“Ek kan verstaan as dit jou hond of kat is, maar wat dan van die budjie, die goudvis of jou meisie se hond? Dit is beslis oop vir misbruik.”

Hy sê wanneer ’n werknemer betaalde verlof het, moet iemand steeds daardie werknemer se werk doen.

Meer oor:  Troeteldiere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.