Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
UP-span blink uit in VSA
’n Studentespan van die Universiteit van Pretoria se fakulteit regsgeleerdheid het ’n vyfde plek behaal by die onlangse Philip C. Jessup Internasionale Regs-kompetitisie wat in Washington DC plaasgevind het. Op die foto van links is Mary-Ann Gettliffe, Sohela Surajpal, Thomas White en Rohula Bilankulu

Kernwapens sal altyd omstrede wees. As net een missiel afgevuur word, sal die gevolge katastrofies wees.

’n Groot vraag is wie die reg het om kernwapens te besit en wanneer dit gebruik mag word. Dit was maar een van die sake waaroor ’n studentespan van die Universiteit van Pretoria se fakulteit regsgeleerdheid op die onlangse 59ste Philip C. Jessup Internasionale Regs-kompetitisie in Washington D.C. voor ’n span internasionale regters moes argumenteer.

Tuks se span – Rohula Bilankulu (LLB III), Mary-Ann Gettliffe (LLM), Sohela Surajpal (LLB II) en Thomas White (LLB IV) – het met deeglik nagevorsde argumente die vyfde plek op die wêreldranglys vir 2018 behaal. 680 universiteite van 100 lande het vanjaar deelgeneem. Die UP-span het beter gevaar as wêreldbekende universiteite soos Harvard en Oxford.

Die span het ook die Alona E Evans-toekenning vir hul geskrewe argumente ontvang.

Gedurende die kompetisie is onder meer geargumenteer oor die gebruik van hommeltuie en tot watter uiterstes ’n land kan gaan om sy kusgebied te beskerm. Volgens die Tuks-regsspan was die debat oor kernwapens sowel die interessantste as uitdagendste.

“Wat dit moeilik gemaak het, was dat ons ’n saak vir en teen die gebruik van kernwapens moes uitmaak. Ons moes in ag neem wat die gevolge vir ’n stad sou wees as ’n kernmissiel afgevuur word. Een van die feite in die saak was dat die land wat dreig om die kernwapens te gebruik, deur ’n diktator regeer word. Dit het alles baie ingewikkelder gemaak, want daar is nie sprake van rasionele besluitneming nie,” verduidelik Surajpal, wat as 19-jarige die jongste lid van die span is.

Ek besef nou dat daar geen rede is waarom ek en my spanmaats nie eendag onsself deeglik in die regswêreld kan laat geld nie.

Bilankulu sê die groot uitdaging was om ’n saak waar jy as regsgeleerde al vooraf besef dat die kans om te slaag uiters skraal is, met oorgawe te argumenteer.

“Ek dink nie ons sou dit kon doen as dit nie was vir die wyse waarop ons afrigter, Gift Kgomosotho, ons voorberei het nie. Ons het al in September verlede jaar vir die kompetisie begin voorberei. Baie aande het ons eers 02:00 by die huis gekom. Die hele Desember-vakansie was ons op die kampus besig met navorsing. Die lang ure het beslis ’n verskil gemaak.

Volgens Bilankulu het die kompetisie haar geleer om as regsgeleerde gouer die feite wat saak maak te identifiseer en só die kaf van die koring te skei.

Surajpal vertel dat sy nou baie meer gemotiveerd is.

“Ek besef nou dat daar geen rede is waarom ek en my spanmaats nie eendag onsself deeglik in die regswêreld kan laat geld nie.

“Ek kan eintlik nie wag om te begin praktiseer nie.”

  • Die Universiteit van Pretoria se fakulteit regsgeleerdheid is onlangs deur Times Higher Education as die beste regsfakulteit in Afrika aangewys.
Meer oor:  Beeld Metro-Noord  |  Vsa  |  Up  |  Kernwapens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.