Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Upington-inwoners betoog teen geweld teen vroue

Met twee doodskiste, baniere en plakkate in die hand, het inwoners van Rosedale in Upington Vrydag opgeruk om hul misnoeë te kenne te gee oor die vlaag van geweld teen vroue.

Volgens Esmarelda McKay, woordvoerder van die regering se kommunikasiediens (GCIS), was die moord op Esmerelda Isaks (14), die laaste strooi vir inwoners van Upington.

McKay was by dié inisiatief betrokke.

Inwoners van Rosedale in Upington het Vrydag deur die strate van die buurt gestap met twee doodskiste en plakkate waarmee hulle hul misnoeë te kenne gee met die onlangse vlaag geweld teen vroue en kinders.

Isaks se lyk is Maandag deur ’n inwoner wat hout bymekaargemaak het, in die veld by Belview gevind. Sy het veelvuldige meswonde gehad. Sy is Sondag laas lewend gesien toe sy ’n kerkdiens bygewoon het.

Die gemeenskap is ook geskok oor die aanranding in Julie op Katrina Bok (83).

Lt.kol. Jacques September, polisiewoordvoerder, het dié voorval bevestig. Bok het ná die aanranding glo haar spraak verloor en kon nie ’n verklaring aflê nie. Sy is kort daarna aan onverwante natuurlike oorsake dood.

Die polisie ondersoek ’n saak van ernstige aanranding. Niemand is al in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die optoggangers het ’n versoekskrif aan die polisie oorhandig om sigbare polisiëring op te skerp, dwelmhandelaars hok te slaan en die veiligheid van vroue en kinders te verbeter.

Op 4 Augustus is ’n 32-jarige vrou en ma van sewe minderjarige kinders van Louisvale, sowat 20 km buite Upington, na bewering deur haar man vermoor.

Sy is volgens sers. Omphile Masegela, polisiewoordvoerder, met ’n voorwerp teen die kop geslaan. Sy het aan haar beserings beswyk.

Haar man verskyn op 20 Augustus in die hof in Upington. Die identiteit van die ouers kan nie bekend gemaak word nie om die identiteit van die minderjarige kinders te beskerm.

Die optoggangers het hul betoging afgesluit deur hul baniere en plakkate in die twee doodskiste te begrawe. Dit was simbolies daarvan om die euwels van die samelewing hok te slaan.

McKay sê inwoners van Upington en omliggende dorpe het tydens Vrydag se optog ’n versoekskrif aan die polisie oorhandig om sigbare polisiëring op te skerp, dwelmhandelaars hok te slaan en die veiligheid van vroue en kinders te verbeter.

Mckay sê die betogings Donderdag by die hof in Athlone, Kaapstad, was ’n aansporing vir die optog in Upington.

Lede van die Facebookgroep SA Women Fight Back het Donderdag betoog teen borgtog vir die verdagtes in die moord op Meghan Cremer.

Desmond Groenewald, projekbestuurder van die Bure-help-bure-projek in Upington, wat aan Vrydag se optog deelgeneem het, sê dit is tyd dat die gemeenskap self verantwoordelikheid neem en saamstaan teen geweld en wetteloosheid.

Die inwoners het hul optrede afgesluit deur hul baniere en plakkate in die twee doodskiste te begrawe.

“Dit is ’n simbool dat ons nou die euwels in ons samelewing vir altyd gaan begrawe en saamstaan om hierdie dinge hok te slaan,” het McKay aan die omstanders gesê.

Meer oor:  Gcis  |  Upington  |  Betoging  |  Geweld Teen Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.