Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
UV-besluit is ‘uitklophou vir Afrikaans’
M.T. Steyn se standbeeld voor die hoofgebou van die UV. Foto: MLUNGISI LOUW

Dit is ’n droewige en donker dag in die geskiedenis van Afrikaans op tersiêre vlak.

Dít aldus die Afrikaanse Taalraad (ATR) nadat die raad van die Universiteit van die Vrystaat (UV) Vrydag hul goedkeuring gegee het om ’n nuwe taalbeleid te ontwikkel en oor ’n jaar in te stel.

Dit volg op die hakke van die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid wat amper dieselfde pad geloop het nadat die universiteitsbestuur aangekondig het dat hulle Engels die voertaal wil maak. Ná ’n onlangse raadsvergadering bly die taalbeleid by Stellenbosch egter volgende jaar parallelmedium, met gelyke status aan Afrikaans en Engels.

Die universiteitsraad van die UV het egter ’n taalbeleid voorgestel waar Engels die primêre taal sal word.

Die ATR het by monde van prof. Jacques van der Elst, uitvoerende hoof, gesê die UV-raad se besluit om die instelling met ’n trotse Afrikaanse geskiedenis eintlik totaal te verengels met ’n paar simboliese toegewings in die rigting van Afrikaans, Zulu en Suid-Sotho is ’n klap in die gesig van Afrikaans as een van die voorste tale van Suid-Afrika.

“Dit is uitklophou vir Afrikaans.”

Hierteenoor sê Lindokuhle Ntuli, SR-voorsitter, dat dié besluit nie ’n aanval op Afrikaans of Afrikaners is nie en dat die universiteit “ryker” met Engels as onderrigtaal sal wees.

“Dit moes verander. Tye het verander. Dit (Afrikaans) het sy doel as onderrigtaal gedien.”

Dit moes verander. Tye het verander. Dit (Afrikaans) het sy doel as onderrigtaal gedien.
Lindokuhle Ntuli, SR-voorsitter van die UV.

Volgens Ntuli sal Afrikaans as taal nooit uitsterf, omdat dit deur die grondwet beskerm word.

“Die nuwe taalbeleid is nie net in die beste belang van studentelewe en akademie op kampus nie, maar ook noodsaaklik vir transformasie, eenheid en integrasie op die Kovsiekampus.”

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns voel op sy beurt die besluit kom neer op die totale verengelsing van die instelling op korter termyn.

Dit loënstraf die rektor, prof. Jonathan Jansen, se vorige versekering dat Afrikaans veilig is solank hy die hoof van UV is.

Die ATR sê hoewel die voorsitter van die universiteitsraad, regter Ian van der Merwe, volgens koerantberigte na ’n oop debat van “hoë gehalte” oor ’n “belangrike en emosionele aangeleentheid” verwys het, dit glad nie die geval is nie.

Volgens die ATR is dit tegelykertyd duidelik dat die UV hom nou op ’n baan van eentaligheid, net Engels, gaan beweeg. “Die meerderheid studente wat gedwing word tot onderrig in Engels is tweedetaalsprekers van die taal, terwyl ’n groot deel van die akademiese personeel waarskynlik nie eerstetaal- of moedertaalsprekers van Engels is nie. Die UV is onder die huidige omstandighede op pad om ’n eentalige Engelse universiteit te word.”

Hiermee saam is die ATR “ernstig besorgd” oor die konsultasieproses wat tot die besluit gelei het.

“Dit is bekend dat die UV-taalkomitee wat die voorlegging oor die nuwe taalreëling gemaak het, nie eenparig was in hulle besluitneming nie en dat lede bedank het vanweë beweerde ondeursigtigheid in die prosesse.”

Meer oor:  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.