Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
UV breek M.T. Steyn-beeld af ‘sonder seremonie’

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se afbreek en wegry van pres. M.T. Steyn se standbeeld Saterdag het tot ontevredenheid gelei omdat die universiteit dit “in die geheim gedoen het”.

Pres. M.T. Steyn se beeld word Saterdag met 'n hyskraan van sy voetstuk voor die hoofgebou op die kampus van die UV gelig. Hoewel 'n permit hiervoor uitgereik is, is die ooreenkoms met die Oorlogsmuseum, sy bestemde nuwe tuiste, nog nie gefinaliseer nie. Die museum is ook nie van die afbreek Saterdag in kennis gestel nie. Die UV is verantwoordelik vir die afbreek, vervoer en bewaring van die beeld en ook vir die oprigting daarvan by die museum. Foto: Verskaf

Hoewel die UV volhou dat hy ingevolge die permit reg opgetree het, het personeel gevoel dat die universiteit se bestuur ten minste ’n klein seremonie kon hou “vir dié wat die president steeds eer”.

Die M.T. Steyn-beeld is bestem om na die Oorlogsmuseum in Bloemfontein te gaan waar hy by die Vrouemonument gaan staan. Die museum het egter gesê die ooreenkoms hiervoor is nog nie in plek nie.

Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, het ná die verskuiwing aan die lig gekom het, op Facebook gesê ná wat met pres. C.R. Swart se beeld op Kovsies gebeur het is die skuif van die Steyn-beeld voorkomend en die regte ding.

“Gelukkig was die verwydering ’n ordelike proses. Daar was minstens nie ’n gillende, jillende en oproerige skare met hamers en plakkate nie. Nou vind die beeld ’n plek op die Vrouemonument se terrein waar dit waardeer, versorg en beskerm sal word.”

Hy sê dit is tyd dat pres. Paul Kruger se beeld ook vanaf Kerkplein in Pretoria na ’n veilige plek verskuif word.

Die beeld van pres. M.T Steyn is Saterdag sonder seremonie op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat afgebreek en weggery. Foto: Verskaf

Tokkie Pretorius, direkteur van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, het Saterdag gesê die ooreenkoms vir die heroprigting van die beeld by die museum met die UV is nog nie in plek nie. Die permit is aan die UV uitgereik vir die afbreking, storing en heroprigting by die museum. Hy is nie in kennis gestel dat die beeld Saterdag afgebreek sal word nie.

Hy het Sondag gesê die ooreenkoms behels die regte en verpligtinge van die partye met betrekking tot die heroprigting van die beeld by die museum. Kragtens die ooreenkoms wat onderhandel en gefinaliseer moet word, moet die beeld se voetstuk eers by die museum opgerig word waarna die beeld met waardigheid na sy nuwe tuiste vervoer en op sy voetstuk geplaas sal word.

Dit is op aandrang van die museum in die ooreenkoms dat die argitek ’n sertifikaat moet uitreik dat die beeld se oprigting aan alle standaarde voldoen.

Eers ná die uitreiking van ’n sertifikaat gaan die regte en kuratorskap van die beeld oor na die museum. Die UV neem verantwoordelikheid vir versekering en alle ander aspekte tot tyd en wyl die beeld finaal opgerig is deur die UV en die argitek die sertifikaat uitgereik het.

“Die museum sien uit dat die ooreenkoms binne die volgende week gefinaliseer word sodat die proses vinnig afgehandel kan word, aangesien daar nog sekere aspekte is waarop konsensus tussen die partye bereik moet word voordat die beeld na die museum verskuif kan word.”

Die voetstuk van die beeld van pres. M.T. Steyn word afgebreek nadat die beeld Saterdag afgetakel is. Foto: Verskaf

Prof. Francis Petersen, rektor van die UV, het in ’n verklaring bevestig die UV het Saterdag die M.T. Steyn-beeld begin afbreek nadat die Vrystaatse provinsiale erfenishulpbronowerheid op 11 Junie ’n permit vir die aftakeling, tydelike berging en hervestiging van die beeld by die Oorlogsmuseum uitgereik het.

Soos deur die permit bepaal is, is die bewaringsplan deur die komitee op 17 Junie goedgekeur. Daarna is voortgegaan met die aftakeling en die storing van die beeld. Die UV is in die proses om die ooreenkoms met die museum te finaliseer, sê hy.

Een van die bepalings van die permit is dat die wense van die Steyn-familie ook aan voldoen word.

Petersen sê die permitkomitee het die UV bedank vir die volgehoue ywer waarmee die saak met die beste bewaringspraktyke hanteer is.

“Daar is geen presedent vir só ’n proses onder huidige Suid-Afrikaanse wetgewing nie en ek is baie gelukkig hoe dit afgehandel is. Ons sal nou voortgaan om die terrein voor die hoofgebou op die kampus te herinterpreteer tot ’n simboliese, inklusiewe openbare plek wat nasiebou en sosiale kohesie bevorder.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.