Hy was ’n goeie mens, kranige visserman en wonderlike pa.
So word Pieter Wilders (30), wie se lyk Dinsdag in die Vaaldam by Oranjeville in die Vrystaat gekry is, deur sy vriende beskryf.
Wilders, ’n motorverkoopsman van Kempton Park in Gauteng, het die naweek saam met sy verloofde, Ronel Vermeulen, by sy ouma, Alet Joubert, in Oranjeville gekuier.
Hy was 14 jaar bevriend met Veronica en Michael van Greunen en hulle het gereeld saam visgevang.
Volgens Veronica het Wilders Saterdagaand gaan visvang en op ’n bootjie uitgevaar om die lyne in te vat.
“Sy ouma se kêrel en stiefbroer (wat saam was) het hul visstokke neergesit en toe hulle opkyk, was hy weg.”

Daar is talle visvangfoto’s van Pieter Wilders op sy Facebook-blad. Foto: Facebook/Pieter Wilders
Wilders het vermoedelik van die bootjie afgeval.
Polisieduikers het onverpoos na hom gesoek en brig. Motantsi Makhele, Vrystaatse polisiewoordvoerder, het bevestig sy lyk is Dinsdag omstreeks 09:30 naby die Magrieta Prinsloo-brug gevind.
Wilders en Vermeulen het ’n driejarige seuntjie en sy is swanger met hul tweede kind.
Veronica sê Vermeulen is baie hartseer en hulle probeer haar moed inpraat.
Sy sê Wilders was die soort mens wat onmiddellik sou ry om jou te help sou jou kar langs die pad breek.
Michael sê hy was veronderstel om die naweek saam met Wilders te gaan visvang, maar moes tuisbly omdat hy moes werk.
“Ek wil nie dink wat sou gebeur het as ek ook daar was nie,” sê Michael.
“Visvang en karre was sy lewe en as daar ’n visvang-trip was, was ek en hy daar.”

Dean Haasbroek, Michael van Greunen en Pieter Wilders.
Michael sê Wilders was liefdevol en ’n wonderlike pa en dat hy hul herinneringe altyd sal koester.
Dean Haasbroek, nog ’n vriend, sê hy was ’n wyse man en baie avontuurlustig.
Volgens Haasbroek was Wilders ’n goeie atleet en het hy jong atlete by die Hoërskool Kempton Park, sy alma mater, help afrig.
“Pieter was ’n baie goeie vriend en ek sal hom nooit vergeet nie.”
Hy voeg by dat Wilders se plek vir altyd leeg sal wees.
“Dit was so skielik. Ek het nooit gedink so iets sal met hom gebeur nie – veral nie terwyl hy gedoen het waarvoor hy lief was nie.”