Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vaderskap-verlof ‘red huwelike’

Vaderskapverlof vir Suid-Afrikaanse mans is ’n edel idee, maar kenners voorsien talle arbeidsgeskille en probleme met produktiwiteit as dié verlof volgende jaar intree.

Daar gaan baie grys gebiede wees.

Die ACDP is oorstelp nadat die parlement die afgelope week die Wysigingswetsontwerp op Arbeidsregte aanvaar het. Dit beteken veranderinge aan die Wet op Basiese Diensvoorwaardes van 1997 en die Wet op Werkloosheidsversekering van 2001.

Cheryllyn Dudley, ACDP-LP, is nou die eerste parlementslid van die opposisie wat dit reggekry het om ’n private wetsontwerp deur die Nasionale Vergadering aanvaar te kry. Nedlac en Cosatu is vooraf oor die wetsontwerp geraadpleeg.

Dudley sê die wetsontwerp behoort omstreeks Paastyd deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) aanvaar te word. Dan moet die president dit onderteken voordat dit na verwagting teen Junie volgende jaar van krag sal word.

Die wetsontwerp maak voorsiening vir verlof vir pa’s van pasgebore babas, ouers wat ’n kind van jonger as twee jaar aanneem en ouers van ’n kind wat deur ’n surrogaatma gebaar word. Dit maak ook voorsiening vir uitbetaling deur die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) in dié gevalle.

Dudley het aan Rapport gesê ’n pa wat nie verlof van die werk het ná sy kind se geboorte of aanneming nie, se gedagtes is nie heeltemal by die werk nie, wat produktiwiteit beïnvloed. Hy het dalk skuldgevoelens oor die ma wat alleen tuis moet regkom.

In die Skandinawiese lande is gevind dat vaderskapverlof die egskeidingsyfer verlaag het, sê sy.

Met sulke verlof leer ouers om hul babapligte te deel, wat minder drama en stres tot gevolg het. Die pa vorm ’n band met die kind, wat ’n positiewe invloed op sy produksie het as hy terug is by die werk.

Sekere maatskappye verwelkom dié praktyk en is buigsaam met hul voordele. Pick n Pay is ’n voorloper hierin. Hopelik sal maatskappye met mekaar begin meeding hieroor, omdat dit groot voordele vir produktiwiteit inhou, sê Dudley.

Daar is egter baie pa’s in Suid-Afrika wie se name nie op hul kinders se geboortesertifikate verskyn nie, hoofsaaklik omdat hulle die finansiële verantwoordelikheid wil ontglip. Om vir vaderskapverlof te kwalifiseer en geld te eis, moet ’n pa se naam op die sertifikaat verskyn, sê Dudley.

Die geld wat hy van die WVF kan eis, is egter nie baie nie: twee derdes van sy salaris vir tien werkdae. Die huidige Wet op Basiese Diensvoorwaardes gee slegs drie dae verlof vir gesinsverantwoordelikheid aan die pa ná die geboorte van sy kind, wat die werkgewer ten volle betaal.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, sê ouers is dalk gelukkiger oor sulke verlofvoordele, maar as daar minder mense is wat produseer by die werk, is die produktiwiteit laer.

“Dis die werklikheid.”

Roodt sê hy is nie so seker dat vaderskapverlof goed gaan wees vir die ekonomie nie.

Lezanne Supra, arbeidsregkenner van Centurion, sê die nuwe wet kan baie arbeidsgeskille veroorsaak.

“Daar gaan baie grys gebiede wees.”

Pa’s wat byvoorbeeld om die een of ander rede nie vaderskapverlof kry nie kan arbeidsgeskille met hul werkgewer verklaar, sê sy.

Sonke Gender Justice, ’n nie-regeringsorganisasie wat hom beywer vir ’n regverdige, demokratiese samelewing, sê die wetsontwerp is ’n mylpaal. Die geslags-neutrale taal gee ouerverlof aan mense van alle geslagte en seksuele oriëntasies. Wessel van den Berg van Sonke sê dis ’n beginpunt in die gesprek oor geslagsgelyke ouerskap.

Meer oor:  Acdp  |  Arbeidswette
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.