Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Valentynsgeskenk: Vrou kry ná 10 jaar ’n trourok

’n Toevallige ontmoeting in ’n restaurant met ’n bekende radio-omroeper het die drome van ’n egpaar van Centurion op Valentynsdag waar gemaak – om uiteindelik ’n troufoto met trourok en al van hulle geneem te kry.

Frans (40) en Ushani Swarts (37) van Centurion, Pretoria, het uiteindelik, ná tien jaar van getroude lewe, troufoto’s. Foto: Facebook/Kyle Cestari van KC Photography

Frans (40) en Ushani Swarts (37) is al tien jaar getroud, maar hy het haar Vrydag vir die eerste keer in ’n trourok gesien toe ’n radiostasie en ’n hotel saamgespan het om ’n lank gekoesterde droom te bewaarheid.

Ushani sê hulle het mekaar 16 jaar gelede in ’n kroegie in Pietermaritzburg ontmoet toe Frans saam met sy vriende en sy saam met haar vriendinne daar gekuier het. Hy het haar per ongeluk met sy snoekerstok raakgeslaan.

“Hy het vreeslik om verskoning gevra en ek het gesê solank hy dit net beter sal soen. Die aand, toe hy by die deur uitloop, het hy my ’n soentjie op die wang gegee en my telefoonnommer gevra. Die volgende dag het hy vir my ’n boodskappie ge-SMS dat hy lief is vir my,” sê sy.

Frans was destyds ’n uitsmyter by ’n ander kroeg en sy ’n kroegdame, ook by ’n ander kroeg. Deesdae is Frans die bestuurder van ’n restaurant in Centurion en is sy ’n winkelassistent by ’n kleinhandelaar.

Ushani sê hul ontmoeting was liefde met die eerste oogopslag. Binne ’n week het hulle saamgebly, en tien jaar gelede is hulle getroud.

Maar die troudag het nie heeltemal soos beplan verloop nie . . .

“Ons sou eers by binnelandse sake trou, maar daar was ’n fout met my identiteitsdokument en die getuies was ook nie die dag beskikbaar nie.

“Frans het net gesê ons sal daardie dag trou, kom wat wil.

Die vyf troutrokke waaruit Ushani Swarts kon kies. Foto: Facebook/Kyle Cestari van KC Photography
Frans en Ushani Swarts op Valentynsdag. Foto: Facebook en Kyle Cestari van KC Photography
Frans en Ushani Swarts van Centurion. Foto: Facebook en Kyle Cestari van KC Photography
Frans en Ushani Swarts is al tien jaar getroud, maar hy het haar op Valentynsdag vir die eerste keer in ’n trourok gesien. Juanita du Plessis het vir hulle gesing op die geleentheid wat deur ’n radiostasie aangebied is. Foto: Facebook en Kyle Cestari van KC Photography

“Die man by binnelandse sake het vir ons die nommer van ’n pastoor, ’n huweliksbevestiger, gegee. Ons het op ’n bus geklim en na sy huis gery waar sy vrou en seun die getuies was.”

Ushani sê Vrydag was vir haar ’n emosionele en wonderlike dag omdat haar drome vlerke gekry het. Sy kon in ’n spierwit trourok voor Frans staan in die Hotel Maslow in Time Square in Menlyn, Pretoria, waarvandaan Jacaranda FM program Breakfast with Martin Bester, uitgesaai is.

Frans het sy storie aan Bester vertel toe hulle mekaar ontmoet het in die restaurant wat Frans bestuur en die radiostasie het besluit om die egpaar se drome waar te maak.

“Vyf trourokke waaruit ek kon kies, is aan my gewys,” sê Ushani. “Ek het sommer dadelik geweet watter een ek wil aantrek. Dit was nie eers nodig om die ander ook aan te pas nie.”

Op dié spesiale geleentheid was daar ook ’n troukoek en blomme en ’n bruidstafel, maar daar was nie weer ’n huwelikseremonie nie. “Ons het net saamgekuier en gelag en die sangeres Juanita du Plessis het haar pragtige liedjie ‘Tussen woorde’ vir ons gesing terwyl ons daarop dans.”

Kurt Darren het vir hulle ’n video gemaak en ’n stukkie van sy liedjie “Standing on the Edge” gesing.

Time Square het ook vir hulle twee nagte plus etes in die Hotel Maslow in die wittebroodsuite aangebied om hul Valentynsdag volmaak af te rond.

Meer oor:  Centurion  |  Trourok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.