Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wiellose Valke kan nie werk

Lede van die Valke in Gauteng kan al maande lank nie hul werk doen nie omdat die lisensieskyfies op amptelike voertuie weens uitstaande boetes nie hernu kan word nie.

Ondersoeke na prioriteitsmisdade soos ernstige bedrogsake, korrupsie en transitorooftogte, sloer.

Hofsake waarby Valke-ondersoekers betrokke is, kom nie op dreef nie.

“Niemand van enige eenheid in die Valke kry iets gedoen nie weens die motorprobleem – en dit gaan al maande so,” bevestig ’n Valke-speurder.

“Daar is honderde boetes uitstaande op die voertuie en die verkeersdepartement wil om daardie rede nie vir ons nuwe lisensies gee nie,” sê ’n kollega.

Kol. Katlego Mogale, Valke-woordvoerder, sê die bestuur is besig om aandag te gee aan die uitdaging van voertuie waarvan die lisensies verval het.

Volgens haar word daar met die “lisensie-owerheid” saamgewerk om die agterstand in te haal en “die situasie reg te stel”.

“Intussen word nuwe voertuie deur ’n ander kantoor bekom om die probleem te verlig,” sê Mogale.

Volgens ingeligtes is al die voertuie in ’n streek onder die naam van een persoon en/of afdeling, wat in beheer is van die vloot, geregistreer.

Daar is honderde boetes uitstaande op die voertuie en die verkeersdepartement wil om daardie rede nie vir ons nuwe lisensies gee nie.

Wanneer lisensieskyfies hernu moet word, toon die stelsel by die verkeersdepartement elke boete vir elke voertuig onder daardie spesifieke naam.

Valke-ondersoekers en aanklaers betrokke by prioriteitsake is rooiwarm van frustrasie.

“Die Valke is juis destyds as ’n onafhanklike direktoraat binne die polisiediens gestig om, aldus ons webblad, ‘nasionale prioriteitsmisdade soos georganiseerde misdaad, ernstige handelsmisdaad en ernstige korrupsie te beveg, ondersoek en te voorkom’. Nou kortwiek burokrasie ons.”

Die speurders sê hulle kan nie ondersoeke doen, bewysstukke gaan versamel, of ry om uitstaande inligting te bekom of dagvaardings aan hofverskynings op getuies te beteken in gevalle waar ’n saak reeds voor die hof dien nie.

Talle sê hulle ry al “maande lank” met hul private voertuie – en brandstof – net om die werk gedoen te kry.

“Van ons moet die hele land vol ry, en ons kan nie.”

Een speurder vertel: “Dit gaan nou vir meer as twee maande so. Meer as 90% van ons karre staan geparkeer. Daar is opdrag gegee dat ons nie met hulle mag ry nie omdat ons eers lisensieskyfies kan kry as al die boetes, waarvan sommige van 2015 kom, op die stelsel vir lisensieskyfies uitgesorteer is. Dit is ongelooflik frustrerend.”

Van ons moet die hele land vol ry, en ons kan nie.

Nog een voeg by dat hulle in die howe in die moeilikheid kom omdat ondersoeke en dossiere nie afgehandel word nie, maar “dit help nie ons kla by ons eie mense nie, want die polisie voel vere”.

Aanklaers in Gautengse howe bevestig dat hulle “aanhoudend” hofsake moet uitstel omdat die Valke-ondersoekers nie hul werk kan doen nie.

“Die ondersoekbeamptes verduidelik dat van hulle al sedert November sukkel omdat die werkvoertuie nie geldige lisensies het nie weens uitstaande verkeersboetes,” sê hofpersoneel en regsverteenwoordigers, wat almal hierdeur geraak word.

“Geregtigheid kan dus nie sy gang gaan nie weens rompslomp,” voeg een moedeloos by.

Valke-ondersoekers glo dat misdadigers “baie bewus” is van hul vervoerdilemma.

“Nuus loop mos maar, en van die beskuldigdes is op borgtog of sake word voorlopig teruggetrek weens uitstaande ondersoekwerk wat eers afgehandel moet word. So die skelms weet ons het nie karre nie en dat ons nie ons werk behoorlik kan doen nie.

“Dan wonder die publiek hoekom prioriteitsmisdade so toeneem,” sê een speurder.

'Onaanvaarbaar'

Prof. Erwin Schwella, ’n regeerkundige van die Hugenote Kollege in Wellington, sê hoewel dit nie bekend is of die probleem tans verder as net Gauteng strek nie, bly dit “totaal onaanvaarbaar”.

“Die Valke is die spits van ondersoeke na korrupsie en sake wat voortspruit uit die Zondo-kommissie. Hulle werk nou saam met die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en as die Valke nie voertuie het nie, hoe konsulteer hulle met die NVG? Hoe bereik hulle die verdagtes wat waarskynlik nie na hulle toe sal ry nie?

“ ’n Mens kan aanvaar dat dit baie moeilik moet wees om korrupsie en wanadministrasie te ondersoek.

“Hierdie is net nog ’n aanduiding van die swigting, die inploffing, van die meeste staatsinstellings, en hoe ook die Valke en hul ondersoekwerk slagoffers daarvan is,” voeg hy by.

Al ligpunt, sê hy, is dat die verkeersdepartement ten minste darem ook die Valke soos die gewone landsburgers hanteer wanneer dit by uitstaande boetes kom.

Oudgenl. Johan Booysen, ’n voormalige bevelvoerder van die Valke in KwaZulu-Natal, sê hierdie soort probleem kom van tyd tot tyd ook in ander provinsies en eenhede voor.

“Ek is bewus daarvan dat dit tans, veral in Gauteng, die werk van die Valke belemmer. Dit dui op swak vlootbestuur deur hul kantoorhoofde.”

Hy voeg by dat die probleem egter nie net voor kantoorhoofde se deur gelê moet word nie, aangesien ondersoekers soms self laks is om te verseker dat uitstaande boetes betaal word en dan kla as die voertuie nie gebruik kan word nie.


Meer oor:  Uitstaande Boetes  |  Valke  |  Katlego Mogale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.