Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vals Naas-reklame nou van Facebook af

Die vals kitsrykdom-advertensie wat onder meer die oud-Springbok-rugbyspeler Naas Botha se gesig gebruik het om “Bitcoin-beleggers” te lok, is van Facebook verwyder.

Mike Bolhuis van Specialised Security Services se kubermisdaad-ondersoekeenheid waarsku egter dat dit heel waarskynlik net weer op ’n ander sosialemediaplatform sal opduik.

“Totdat ons hulle vastrek, want ons is warm op hulle spoor,” sê die hoof van die ondersoekeenheid. Sy identiteit word om veiligheidsredes weerhou om nie die ondersoek na die kuberskelms in Botha se geval te benadeel nie.

Naas Botha

Die advertensies het ongeveer twee maande gelede op Facebook opgeduik. Hierin word foto’s van Botha alleen, sowel as van hom saam met sy gesin, gebruik.

Die advertensie beweer dat ’n “outomatiese Bitcoin-verhandelingsplatform” genaamd Bitcoin Compass, van Botha ’n miljoenêr gemaak en hom uit bankrotskap gered het.

Die advertensie is egter ’n verneukspul en Botha sê sy identiteit is sonder sy toestemming gebruik.

Die hoof van Bolhuis se kuberspan sê dit is egter nie net Botha wie se identiteit en bekendheid so misbruik word nie.

“Mense soos Elon Musk, Mark Shuttleworth en ’n vorige minister van finansies se bekendheid en foto’s is al in soorgelyke skelmstreke gebruik, wat eintlik maar net ’n meer moderne tipe Ponzi-skema is,” sê die ondersoeker.

Bedrieërs gebruik dié skelmstreek omdat kubergeldeenhede soos Bitcoin moeilik is om na te spoor en hulle anoniem kan bly.

Die modus operandi is om foto’s van bekendes van die internet af te trek. Die slagoffers weet nie eens dat hul foto’s wat op sosiale media is, vir die skelmstreek gebruik word nie.

“Die bekendheid van die persoon maak ook die ‘advertensie’ meer geloofwaardig vir mense. Dan gebruik hulle ’n gepubliseerde aanhaling van die bekende en brei dit uit sodat dit klink asof die persoon die produk ondersteun.

“In Naas se geval gebruik hulle ook ’n algemeen bekende feit, soos dat hy in ’n stadium bankrot verklaar is. Dit wek meer geloofwaardigheid,” sê die ondersoeker.

Die bedrieërs wat Botha se identiteit gebruik het, het dit reggekry om skuiwergate in Facebook se advertensiebeleid uit te buit.

“Facebook het baie streng regulasies oor advertensies in die VSA, so skelmstreke soos dié kom min daar voor. Facebook het egter ook ’n Afrika-afdeling wat ’n agentskap in elke Afrika-land aanstel om advertensies te plaas.

“Afrika is egter groot en van die wette en regulasies wat in Amerika van toepassing is, raak afgewater, wat dit makliker vir bedrieërs maak,” sê die ondersoeker.

Hy het gevind dat die bedrieërs van die spesifieke advertensie met Botha daarin, wel deur die Suid-Afrikaanse agentskap vir Facebook-advertensies gewerk het.

“Die eerste hekkie van Facebook se regulasies oor advertensies is onder meer om te kyk of dit aanstoot kan gee, pornografie bevat of onwettig is.

Dié vals Bitcoin-advertensie het nie een van daardie gevaarligte laat flikker nie.

“Dit het eerder geklink soos ’n sakegeleentheid van ’n finansieringsplek. Die agentskap het egter nie die res van die inligting geverifieer nie en die advertensie is op Facebook geplaas.

“En almal wie se algoritmes iets van rugby, die Blou Bulle, Naas of iets soortgelyks getoon het, het dié advertensie gesien,” sê die ondersoeker.

Hy het die oorsprong van die advertensie – en die bedrieërs se nes – tot in ’n land in Afrika nagespoor.

“Hulle is nie in Suid-Afrika nie. Ons weet waar hulle is en die net om hulle trek nouer,” sê hy.

Botha sê hy waardeer dit dat iemand teen die advertensie opgetree het, veral nadat hyself dit op talle geleenthede aan Facebook aangemeld het en daar dadels van gekom het.

“Dit is ongevraagd om soiets aan enige mens te doen. Ek weet ek het absoluut niks gedoen (om by die advertensie betrek te word) nie. Dit sal goed wees as die skuldiges aan die kaak gestel word,” sê hy.

Die agentskap wat die advertensie op Facebook geplaas het, het navrae na Facebook-woordvoerders in Suid-Afrika verwys. Hulle het skriftelik geantwoord: “Ons laat nie misleidende of valse advertensies op Facebook toe nie en moedig mense aan om enige advertensie wat inbreuk maak op hul regte, aan te meld. Ons het dadelik die Naas Botha-advertensies ondersoek en verskeie rekeninge en bladsye wat ons advertensiebeleid oortree, verwyder”.

* So mislei vals advertensies jou:

Die hoof van Specialised Security Services se kubermisdaad-eenheid sê danksy die internet is daar bitter selde die soort weggee gebroke Engels in die advertensies wat mense snuf in die neus sal laat kry.

“Hulle kan die advertensies in selfs die mooiste Afrikaans verwoord.”

Die advertensies verduidelik stap vir stap wat die slagoffer moet doen om sy geld te “belê” en “skielik skatryk” te word.

Dit gee ’n telefoonnommer met ’n bekende stad se kode. Dié word egter deur die sindikaat na hul eie lede herlei, wat dan die foon antwoord asof hulle deel van ’n wettige skema is.

Mike Bolhuis sê hy het juis die kubermisdaad-eenheid begin omdat mense hom oorval het met klagtes dat hul rekeninge gekraak is, hul profiele of identiteit gesteel is, of dat hulle afgepers word.

“Mense se goedgelowigheid word met dié wanvoorstellings uitgebuit. Wees uiters versigtig oor wat jy glo en wat jyself publiseer, want alles kan gebruik word, selfs ’n onskuldige foto waarop jou kar se registrasienommer in die agtergrond sigbaar is.

“As iets te goed klink om waar te wees, dan is dit nie waar nie,” waarsku hy.

Meer oor:  Naas Botha  |  Facebook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.