Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Van den Berg wen met ‘snuistery’

Die skrywer Zirk van den Berg het twee van die vier pryse en ’n stewige R375 000 gewen in die kykNET-Rapport-boekpryse, wat vanjaar vir die eerste keer aanlyn aangekondig is.

Zirk van den Berg het die fiksie- en filmkategorie van die kykNET-Rapport-pryse gewen met sy novelle Ek wens, ek wens.
Carel van der Merwe
Theo Kemp

Van den Berg, wat die afgelope 22 jaar in Auckland, Nieu-Seeland, woon, het geseëvier in die fiksie- en fliekkategorie met sy novelle Ek wens, ek wens, wat in Junie ook met die W.A. Hofmeyr-prys bekroon is. Hy het dié storie – oor ’n middeljarige lykbesorger wat ’n rede vind om in wense te glo – verlede jaar in ’n onderhoud met Rapport “ ’n dun ou boekie van skaars 35 000 woorde” en ’n “ligte, lekker snuistery” genoem “wat niemand aanstoot sal gee nie”.

Hy het ook gesê hy verkeer onder geen illusie om daarmee “die Hertzog- of ’n ander prys te wen nie” omdat die boek “nie literêr óf kommersieel genoeg” is nie.

Van den Berg het in 2014 die eerste kykNET-Rapport-fliekprys ontvang vir sy roman ’n Ander mens, wat volgens die beoordelaars die boek was wat hom die beste daartoe leen om tot ’n rolprentdraaiboek verwerk te word. Die fliekweergawe is verlede jaar uitgereik.

Carel van der Merwe het R250 000 ontvang as die niefiksiewenner vir die biografie Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen. Hy het dieselfde prys in 2016 ontvang vir Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog. Van der Merwe het juis dié prysgeld gebruik om in Brittanje en die VSA navorsing vir Kansvatter te doen.

Die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede prosawerk van R125 000 is toegeken aan Theo Kemp vir sy tweede roman, Strafjaart.

Tydens die bekendmaking van die wenners via Facebook het Karen Meiring, kykNET-kanaalhoof en direkteur van Afrikaanse kanale by M-Net, en Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, aangekondig dat ’n nuwe beurs bewillig word om diversiteit in die geledere van Afrikaanse skrywers te help stimuleer en die taal se onderskeie weergawes te bevorder. Dit sal aan ’n “nuwe literêre stem” die geleentheid bied om sy of haar skryfkuns vir een jaar by ’n erkende instelling vir kreatiewe skryfwerk te slyp.

Die kykNET-Rapportprys vir boek­resensent is ook Saterdagaand toegeken in die kategorieë fiksie, niefiksie en langer resensies waarvoor onderskeidelik proff. Willie Burger, Bill Nasson en Hein Willemse elk R25 000 ontvang het.

* Die ander benoemdes wat in die fiksiekategorie teen Van den Berg te staan gekom het, was wyle Harry Kalmer vir In ’n land sonder voëls, Johan Jack Smith vir Zola, Etienne van Heerden vir Die biblioteek aan die einde van die wêreld en Jan van Tonder vir Die verevrou. In die niefiksiekategorie het Albert Blake vir Robey Leibbrandt: ’n Lewe van fanatisme en Murray la Vita vir Boodskapper van die gode teen Van der Merwe te staan gekom. Die ander benoemdes vir die Jan Rabie-Rapportprys was Lize Albertyn-du Toit vir Die kinders van Spookwerwe en Ruan Kemp vir Gedeeltelik bewolk. Lees in Weekliks meer oor die onderskeie keurpanele, kort uittreksels uit die huldigingswoorde en wat die drie hoofwenners op die hart het. Inligting oor deelname aan die pryse vir 2021 word binnekort bekend gemaak.

* Lees hier.

Meer oor:  Zirk Van Den Berg  |  Wenners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.