Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Van ‘grendelpendel’ tot ‘ploeterpakkie’ gee inperking kleur

“Ploeterpakkie”, “inperkbeserk” en “grendelpendel” is woorde wat nie bestaan het in Afrikaans voor die uitbreking van die virussiekte Covid-19 nie.

Afrikaans.com het die woorde wat wel sedertdien ontstaan het, nou saamgevat in ’n woordeboek.

“ ’n Woordeboek met woorde vir al die vreemde en ongewone situasies wat ons tans beleef,” lui ’n verklaring wat deur Afrikaans. com uitgereik is. “Baie daarvan natuurlik met ’n goeie skeut humor daarby, want dit is tog juis ons Suid-Afrikaners se humor wat ons deur moeilike tye dra.”

Annelie van Jaarsveldt, skakelbeampte van Afrikaans.com, sê by navraag sedert die begin van die staat van inperking was mense genoodsaak om anders te dink oor die alledaagse. “Oral in die media het daar skielik hierdie Covid-19-woorde ontstaan – tipies woorde wat ’n mens kan koppel aan die pandemie. Skielik het woorde wat voorheen bestaan het, ’n nuwe betekenis gekry en dit het oral kop uitgesteek.”

Van Jaarsveldt sê van die woorde het hulle in die media raakgelees en ander was deel van ’n woordwolk wat deur Afrikaans Vandag se Woordeboek van Eietydse Afrikaans gepubliseer is. Ander woorde het die organisasie self uitgedink en die res het die publiek ingestuur as deel van ’n kompetisie. Die uitkoms is byna 100 koronaverwante woorde tot op hede en die lys groei steeds.

’n Voorbeeld is “moetgoed” wat verwys na noodsaaklike goedere wat tydens die inperking gekoop mag word, wat deur Melissa-Jane Boshoff ingestuur is.

“Ramafobie”, ingestuur deur Marianne van Rensburg, verwys na die vrees wat Suid-Afrikaners het dat pres. Cyril Ramaphosa ’n verlenging van die inperking gaan afkondig.

Die organisasie vra dat die publiek hul unieke woorde met ’n beskrywing daarvan sal stuur aan myafrikaans@afrikaans.com.

Mense wat nuutskeppings instuur, se naam sal saam met die woord verskyn.

Die woordeboek kan afgelaai word vanaf die webtuiste www.afrikaans.com.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.