Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Van Memphis tot in Bloem, Elvis bly koning
Hoewel Lourens Brink nie vir Elvis Presley naboots nie, sing hy steeds graag sy liedjies en interpreteer dit op sy manier. Foto: Mlungisi Louw

Vier dekades ná die Koning van Rock ’n Roll se dood, word sy lewensverhaal steeds in Bloemfontein vertel.

Lourens Brink (32), ’n derdejaar joernalistiek- en filosofiestudent aan die Universiteit van die Vrystaat, het Woensdag, persies 40 jaar nadat Elvis Presley vermoedelik ’n oordosis medisyne gedrink het, weer een van Elvis se bekendste liedjies, Blue Suede Shoes, gesing ter herdenking van sy dood.

“Hoewel ek nog nooit in Memphis of Nashville was nie en nie eens in Elvis se tyd geleef het nie, vind ek baie aanklank by hom,” sê Lourens.

“Ek het grootgeword met Elvis se musiek. Ek het sy lewensverhaal begin navors en kon net nie genoeg van hom kry nie.”

Hoewel Lourens hom nie probeer namaak nie, want “dit is vir my onmoontlik om vir Elvis na te boots”, sing hy graag van sy groot treffers vir gehore.

“Ek dink as jy ’n kunstenaar naboots, word jy gedurig gemeet aan daardie kunstenaar. Ek probeer dus net op my eie manier sy liedjies interpreteer en so sy lewensverhaal met die gehore deel.”

Lourens Brink van Bloemfontein met van sy Elvis Presley-gedenkwaardighede. Elvis is Woensdag presies 40 jaar gelede dood.

Lourens het op 17 sy eerste Elvis Presley-album gekoop en op 24 werklik self eers begin sing.

“Ek moes eers ontdek wat my stem alles kan doen. Ek het vir ’n paar jaar sanglesse gehad en sing, wanneer ek tyd het, by kunstefeeste baie van Elvis, Johnny Cash en ander countrymusiek.”

Hy was ook vroeër vanjaar deel van die Passiespele saam met Jacobus Silwer.

Hoewel Elvis nooit self in Suid-Afrika was nie, “sou hy tog die probleme hier verstaan het”.

“Hy het arm grootgeword in Tupelo, Mississippi. Later in sy lewe het hy in ’n groot huis gebly. Ek dink hy het wel empatie met armer mense gehad.”

Lourens kan ook met Elvis se standpunt teen rassisme identifiseer.

“Elvis het regtig nie velkleur raakgesien nie en het in die 70’s gedreig om ’n konsert in Texas te kanselleer omdat sy swart agtergrondsangers nie toegelaat is om saam met hom op te tree nie.”

As Lourens vir Elvis vandag, op 82-jarige ouderdom, iets kon vra, sou hy vra: “Hoe het jyself oor jou roem gevoel?

“Ek dink dit is iets wat hom later gevang het.

“Maar een ding is seker: Al is hy 40 jaar gelede dood, bly Elvis koning. Van Memphis, tot in Bloemfontein.

Meer oor:  Elvis Presley  |  Sanger  |  Rock  |  Musiek  |  Blues
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.