Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vandale grou gate in spoggholfbaan
Die gate wat rondom een van die putjies van die gholfbaan gegrawe is. Foto: Facebook

Gedeeltes van ’n spoggholfbaan in die Oos-Kaap is verwoes kort voordat ’n toernooi van die Sonskyn-gholfreeks daar begin.

Die Wild Coast Sun-uitdaagtoernooi skop Maandag by die Wild Coast Sun-buiteklub se gholfbaan suidoos van Port Edward af.

Die bestuurspan van die toernooi het Sondagoggend uitgevind dat ’n groot aantal gate op ses setperke gegrawe is.

Michael Hollick, ’n professionele gholfspeler wat ook aan die toernooi deelneem, het Sondag foto’s van die skade op sosiale media gelaai.

Hollick beweer die vandalisme kan aan weerwraak toegeskryf word. Personeel daar is glo onlangs deur die klub afgedank oor ’n onwettige staking.

Thomas Abt, adjunkkommissaris van die Sonskyn-gholfreeks, kon nie dié beweringe bevestig nie. Hy sê dit bly ’n raaisel wie vir die skade verantwoordelik is en hoekom die gate gegrawe is. Daar was geen ooggetuies nie.

Netwerk24 verneem daar is ook boodskappe op die vlaggies van die gholfbaan geskryf.

Die buiteklub kon nie Sondagaand vir kommentaar bereik word nie.

“Ons is natuurlik almal geskok en ons kan nie glo wat gebeur het nie,” sê Abt. Die vermoede is dat grawe die vorige aand gebruik is om die setperke te beskadig.

Die toernooi gaan steeds voort. Die skade is by die 12de tot 17de putjies aangerig en daarom sal net die eerste nege putjies Maandag gebruik word, sê Abt.

“Dit gee die span kans om die gras op die setperke van die volgende nege putjies vir die volgende dag te herstel. Dit gaan beslis die spel beïnvloed, want dit sal waarskynlik langer as ’n maand neem om volkome te herstel. Die bestuur en die spelers het egter besluit ons gaan voort met die toernooi om die klub te ondersteun.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.