Die bobbejaan wat so vlugvoetig deur Northcliff in Johannesburg se strate en oor dakke geskarrel het, het Donderdag ’n lae profiel gehandhaaf.
Nou wag Community Led Animal Welfare (Claw) geduldig dat die kees val vir die liplekker versoekings wat in ’n vanghok geplaas is.

Die bobbejaan op sy vlugtog Woensdag deur Northcliff, Johannesburg. Foto:
SCP/Facebook
“Daar was vandag net drie rapporterings van mense wat hom gesien het. Dit was almal in dieselfde radius van ’n kilometer, so ons het ’n stil, veilige plek in die gebied geïdentifiseer en ’n vanghok gestel,” sê Cora Bailey van Claw.
Binne-in is mielies, piesangs, waatlemoen en appels – so gepak dat die hok se valdeur sal toegaan sodra die bobbejaan die kos vat.
“Ons vermoed die bobbejaan het geskuif na waar minder mense is, want hy sal mense probeer vermy. Daarom was hy minder sigbaar vandag. Nou moet ons net geduldig wag totdat hy by die vanghok ingaan, wat hy eers sal doen as hy seker is dis veilig,” sê sy.
Claw-personeel gaan loer wel sporadies of die rondloper al gevang is sodat hy verskuif kan word.
Ook die Randburgse DBV, wat sedert Woensdagaand help soek, kon hom nog nie opspoor nie.
Die bobbejaan het mense op sosiale media gaande gehad nadat hy Woensdag op mure, winkelsentrumdakke en op sypaadjies gewaar is.
Hy was vroeër die week eers doenig in Northcliff, in Randburg, Johannesburg, toe in Rooseveltpark nie ver daarvandaan nie, voordat hy Woensdag die pad terug na Northcliff gekies het.
Inwoners is gemaan om hom nie te konfronteer of te skiet nie, maar om net uit sy pad te bly en hul troeteldiere binnenshuis te hou.
“Die bobbejaan is nie gevaarlik nie, hy is wild, bang en verskrik en probeer mense vermy.
“Los hom net en rapporteer waar hy laaste gesien is,” het Bailey sowel as die DBV versoek.
* Mense wat die dier gewaar, kan Claw van sy ligging op WhatsApp by 076 850 4466 in kennis stel.