Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vars gebak laat toe trane rol

Die pakkies varsgebakte eetgoed wat moeë dokters en personeel ná uitmergelende skofte by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad kry, is vir hulle soos ’n stywe drukkie op die regte tyd.

Sandra van Niekerk, een van die 68 baksters, sê haar dogters, Natalia (15) en Mischa (9) leer, deur die projek, hoe belangrik gemeenskap is. Foto: Edrea du Toit

Elke pakkie dadelballetjies, hawermoutkoekies of fudge kry ook ’n geskrewe boodskap van bemoediging, of word aan iemand spesiaals opgedra.

Een van die hardwerkendes, prof. Ross Hofmeyr, sê die gevoel wat hy kry as die eetgoed in die teekamer op hulle wag “is baie dieper as net die verligting om iets te kry om aan te peusel. Dis ’n onverwagte drukkie op ’n tyd dat ons almal net ’n drukkie nodig het.

“Ons almal voel tot die uiterste beproef in ons taak as versorgers in hierdie Covid-19-marathon, dus laat klein gebare van sorg vir versorgers ons gewaardeer en deel van die gemeenskap voel.”

Ek het gesê ek kan nie bak nie, maar ek kan organiseer en mobiliseer!

Die eetgoed is veral welkom omdat baie hospitaalkafeterias vir veiligheidsredes gesluit is.

Dié soetgoed kom al meer as 100 dae daagliks uit die kombuise van 68 bakkers van Pinelands en omstreke.

Die Kaapstadse Gemeenskapsaksienetwerk (CAN) het Suzi Cinderey, ’n bestuurder by die plaaslike laerskool, genader om daarmee te help.

“Ek het gesê ek kan nie bak nie, maar ek kan organiseer en mobiliseer!” Cinderey het ’n paar vrywillige bakkers gekry, ’n WhatsApp-groep gestig en plakkate opgesit. Alles het klein begin.

Soetgebak met ’n hartroerende boodskappie. Foto: Facebook

“My seun Xander het vanuit Brittanje, waar hy woon, video’s saamgestel oor hoe ek ’n databasis kan opstel en verpakking doen. Ek het ook ’n weeklikse nuusbrief begin – net om die gees aan die gang te kry!

“Almal van ons het so baie geleer in dié tyd.”

Hofmeyr het ook ingespring en saans die pakkies met sy motorfiets by die baksters opgelaai en hospitaal toe geneem.

“Die proses is verder verfyn tot bak met streng kontrole, sodat infeksies nie versprei word nie.”

’n Kollega van die neonatale eenheid wat ook in die gebied bly en ook motorfiets ry, het ook begin help pakkies oplaai.

Cinderey sê die bakkers bly anoniem en word net met ’n nommer (op die pakkie) geïdentifiseer – vir naspeurbaarheid. Die jongste bakker is 16 jaar oud.

Prof. Ross Hofmeyr, ’n narkotiseur, laai die pakkies met sy motorfiets op.

Hofmeyr het dié week een oggend om 05:20 aan die einde van ’n 11-uur-skof op sosiale media geskryf: “Pas werk afgehandel met ’n kritieke pasiënt in die ­hoësorgeenheid en op pad om ’n neurochirurgiese noodgeval en moontlike Covid-geval na die teater te neem”.

Hy het toe vinnig een van die kospakkies gegryp en daarop gesien dis opgedra aan personeel wat hul lewe in die stryd teen Covid-19 verloor het.

“Brille raak nou dubbel so vogtig, #gesondheidshelde,” skryf hy dan.

Sandra van Niekerk sê haar bakwerk is ’n klein bydrae vir dié wat so hard veg in die hospitale.

“Van die veiligheid en gemak van my kombuis, voel dit na ’n baie klein ding om te doen, maar een groot plesier. Dit is ook iets waarby ek my twee dogters kon betrek – ’n baie praktiese aktiwiteit wat mens leer hoe belangrik gemeenskap is.”

Meer oor:  Groote Schuur-Hospitaal  |  Kospakkies  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.