Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vearey dalk binnekort sonder beskerming

’n Maand nadat Jeremy Vearey, gewese Wes-Kaapse speurhoof, deur genl. Khehla Sitole afgedank is, het die polisie besluit om sy polisiebeskerming weg te neem.

Genl.maj. Jeremy Vearey Foto: Deon Raath

Vearey, wat onlangs saam met sy vrou positief vir die koronavirus getoets is, het Woensdag bevestig dat hy per brief ingelig is dat sy polisiebeskerming onttrek word.

“Die mense is besig om nie net my lewe nie, maar ook dié van my gesin, in gevaar te stel.”

Hy het gesê hy gaan dit nie daar laat nie. “Ek het nie die brief onderteken nie en my regsverteenwoordiger opdrag gegee om die polisie hieroor aan te vat.”

Luidens die brief, wat genl.maj. Thembisile Patekile aan Vearey gerig het, sal die beskerming op 30 Junie onttrek word. Netwerk24 het ’n afskrif van die brief gesien.

Vearey sê die polisie speel reg in die kaarte van bendes “wat hom wil uithaal”.

Lees: Vearey sê hy is oor velkleur uit polisie gedryf

“Daar is geen logika hierin nie. Hulle weet dat my lewe, soos dié van genl.maj. André Lincoln en die vermoorde lt.kol. Charl Kinnear, in gevaar is.”

Hy sê benewens die dispuut wat hy met die polisie oor sy afdanking aan die gang het, is daar verskeie hoëprofiel- bendeverwante sake waarin hy moet getuig en al in die verlede getuig het.

Die mense is besig om nie net my lewe nie, maar ook dié van my gesin, in gevaar te stel.

“Hierdie sake het my oor die jare ’n teiken vir bendes gemaak. Hulle kan nie aanspraak daarop maak dat hulle onkundig is nie.”

Een van die sake waarin Vearey ’n getuie is, begin in Augustus in die streekhof in Kaapstad.

Intussen het Vearey se regsverteenwoordiger, adv. Johnny Nortjé, bevestig dat Vearey hom gevra het om vertoë aan die polisie te rig.

“Daar is ’n klomp ander mense aan wie hulle beskerming verleen. Ons kyk byvoorbeeld na die weduwee van lt.kol. Charl Kinnear. Ons sê nie dat mev. Kinnear se lewe nie belangrik is nie, maar my kliënt is in lewensgevaar sou die beskerming aan hom onttrek word,” het Nortjé gesê.

Vearey is op 25 Mei ná ’n tugverhoor deur lt.genl. Liziwe Ntshinga, Oos-Kaapse polisiehoof, daaraan skuldig bevind dat hy die polisie en Sitole se naam met sekere inskrywings op sy Facebook-blad in oneer gebring het.

Hy ontken dit.

Sitole het hom drie dae later op 28 Mei afgedank.

Popcru, sy vakbondverteenwoordiger, het intussen sy afdanking na die sektorale bedingingsraad vir die veiligheidsbedryf verwys. Die saak sal in Julie aangehoor word.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, is vir kommentaar genader. Sy het gesê sy sal eers moet gaan navraag doen, en sal kommentaar lewer sodra sy klarigheid oor die saak het. Die polisie se kommentaar sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.


Meer oor:  Jeremy Vearey
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.