Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Veediefstal: 600 beeste op plaas ondersoek
Johan Heyns skeer een van die beeste se hare af sodat die brandmerk duideliker sigbaar kan wees.Foto: Alet van der Walt

Dit het Maandagoggend soos ’n beesveiling op die plaas Makawaansbank buite Steynsrus in die Vrystaat gelyk toe tientalle boere weer hier byeengekom het op soek na hul gesteelde vee.

Die plaas is in 2007 deur die regering gekoop en aan die gemeenskap oorhandig.

Heilbron se veediefstaleenheid, onder leiding van ao. Petrus Moshoadiba, het verlede week ’n lasbrief bekom om die plaas vir gesteelde vee te deursoek.

Bykans 600 beeste wat op die plaas en omliggende plase gevind is en wat vermoedelik gesteel is, word deur boere in ’n drukgang gejaag waar daar na die beeste se brandmerke en ore gekyk word.

Tydelike krale en ’n drukgang is opgerig om die proses te bespoedig.

Vrystaatse boere is besig om na 600 beeste se brandmerke en ore te kyk om vas te stel of die beeste gesteel is. Foto: Alet van der Walt

Die boere gebruik ’n elektriese skeerder om die hare op die beeste se boude weg te skeer sodat die brandmerke duideliker sigbaar kan wees.

Beeste waarvan die ore afgesny is om so van wettige tatoeëermerke ontslae te raak, en beeste waarvan brandmerke oormekaar gebrand is, word uitgekeer as vermoedelik gesteel.

Dit is onwettig om ’n nuwe brandmerk bo-oor ’n bestaande brandmerk te maak.

Uit die eerste groep van 150 beeste is 60 beeste uitgehaal waarvan die brandmerke nie wettig aangebring is nie, of waarvan die ore afgesny is.

Boere het weer Maandag op die plaas Makawaansbank bymekaargekom op soek na gesteelde beeste. Foto: Alet van der Walt

Sylvanus Watson, ’n boer van die omgewing, sê dit is nie seker wat met die beeste gedoen gaan word wat moontlik gesteel is as niemand hulle opeis nie.

Foto’s van brandmerke word geneem en na landbougroepe gestuur om die wettige eienaars te probeer opspoor.

Ben van Niekerk, ’n boer van Steynsrus, het reeds nege koeie en ses kalwers opgespoor. Sy plaas grens aan Makawaansbank.

Ernst Prinsloo van Bethlehem sê 27 van sy beeste is gesteel en hy het Maandag kom kyk of van hulle dalk hier is. Prinsloo het voorheen van sy gesteelde beeste in Vereeniging op ’n veiling gekry.

Rathule Wolf, hoof van die gemeenskap op die plaas, het ook Maandag die plaas besoek en gesê die gemeenskap is baie geskok oor die gebeure.

’n Familielid van Wolf, Moeketsi Wolf (74) en Samuel Rathaba (56) is verlede week op die plaas in hegtenis geneem en het Maandag op aanklagte van veediefstal in die hof in Lindley verskyn.

Meer oor:  Steynsrus  |  Veediefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.