Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Venter-ouers onthou Suna se lewenslus en passie

Die joernalis Suna Venter se ouers het haar Donderdag as ’n “deurwinterde en gesoute” verslaggewer en fantastiese mens met ’n ware passie vir haar werk beskryf.

“As ouers wil ons net sê sy was werklik ’n fantastiese mens vol drome en dapperheid. Sy was ons spesiale kind. Ons is baie hartseer,” het haar pa, dr. Phillip Venter, gesê.

“Suna het ’n fantastiese, borrelende persoonlikheid gehad en ek dink dit is wat ons meestal van haar sal onthou.”

Volgens hom het Suna, wat onlangs van Sirië af teruggekeer het, veral ’n sagte plek vir kinders in oorlogsones soos Sirië en Gaza gehad en baie van haar werk daarop gefokus.

“Sy was vol lewenslus en dapperheid en ek en haar ma het baie respek vir haar braafheid en passievolle natuur gehad. Sy was baie geliefd en ons sal haar verskriklik mis.

Suna VenterFoto: Lucky Maibi

“Ek en Christa, Suna se ma, wil net sê sy was ’n baie dapper mens. Ons is baie trots op haar en het waarlik waardering vir die goeie herinneringe aan haar.”

Volgens Foeta Krige, een van agt SAUK-joernaliste wat verlede jaar saam met Venter opspraak gemaak het deur Hlaudi Motsoeneng se omstrede beleid by die openbare uitsaaier te bevraagteken, is Venter se lyk Donderdagoggend in haar woonstel in Fairland in Randburg, Johannesburg ontdek.

Krige, wat as woordvoerder vir die familie optree, het Donderdag gesê Venter is onlangs met stresgeïnduseerde kardiomiopatie, ook bekend as “gebrokehartsindroom” gediagnoseer en hy is oortuig die drama by die SAUK het tot haar dood bygedra.

Kardiomiopatie veroorsaak vervorming van die hart en word deur langdurige stres en trauma vererger.

Venter se pa het Donderdagaand bevestig dat sy weens ’n harttoestand oorlede is.

Suna word deur haar ouers, haar broer, Willem, en suster, Tessa, oorleef.

* Die sogenaamde SAUK-8 het verlede jaar opspraak verwek toe hulle kapsie gemaak het teen Motsoeneng se omstrede beleid wat hy by die openbare uitsaaier wou implementeer.

Die arbeidshof het ná hul afdanking Solidariteit en die mediawerkersvakbond Bemawu se aansoeke om sewe van die agt joernaliste weer aan te stel, met koste toegestaan.

Volgens Krige was Venter se hoofdoel die afgelope jaar om te veg vir ’n onafhanklike nuuskantoor vry van redaksionele inmenging.

Toe dokters haar aangeraai het om van haar stresvolle werksomstandighede weg te kom, het sy geantwoord sy kan nie gaan voordat dié stryd gewonne is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.