Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Verbod op twak net sleg vir staat se koffer

Meer as 90% van die land se sowat 6 miljoen rokers rook steeds, ondanks die verbod op sigarethandel tydens die inperking, toon ’n peiling deur die navorsingseenheid vir die ekonomie van aksynsbare produkte aan die Universiteit van Kaapstad (UK).

Terselfdertyd het gevestigde sigaretvervaardigers se markaandeel skerp gedaal. British American Tobacco (BAT), wat dekades lank die markleier was, is van die troon gestoot deur Gold Leaf, wat sy sigarette in Suid-Afrika en Zimbabwe maak. Volgens die UK se peiling onder 16 000 rokers het amper 90% van hulle sigarette opgepot voordat die inperking begin het. Maar toe hul rookgoed opraak, het hulle bloot by straathandelaars of vriende en familie met “kontakte” nog gekoop.

Die peiling wys BAT, wat die grootste handelsname soos Dunhill en Peter Stuyvesant in sy stal het, se markaandeel het gedaal van 60% voor die inperking tot 24% toe die peiling tussen 29 April en 11 Mei gedoen is.

Gold Leaf het voor die inperking 12% van die sigarette in die land verkoop, maar hy is nou die markleier met ’n aandeel van 30%.

“Dit sal nie só bly nie. Ná die inperking sal daar ’n aggressiewe prysoorlog aan die gang kom waarin die groot rolspelers sigarette teen minder as kosprys sal verkoop,” sê Johann van Loggerenberg, voormalige hoof van die SA Inkomstediens se spesialiseenhede wat twee boeke oor die land se tabakbedryf geskryf het.

Sowat 41% van die respondente het probeer om tydens die inperking hul twak te los, maar minder as die helfte van hulle het dit reggekry en die res rook weer.

Die verbod het die prys van sigarette met gemiddeld 90% laat styg.

“Die prys vir ’n los sigaret het met gemiddeld 4,4% per dag gestyg in die 13 dae waarop die peiling gedoen is, wat beteken die prys het van die eerste dag tot op die laaste dag van die peiling met 53% gestyg,” sê die drie navorsers, prof. Corné van Walbeek, Samantha Filby en Kirsten van der Zee, in hul verslag.

Voor die inperking het 53% van die rokers hul sigarette by gevestigde winkels gekoop, maar dis nou net 3%. Vroeër het 34% hul rookgoed by spazawinkels gekoop, maar nou koop 44% dit daar.

Waar bitter min mense voorheen sigarette by straathandelaars gekoop het, doen 26% dit nou. Sowat 30% koop by vriende en familie en 11% kry dit via WhatsApp-groepe.

Die regering het reeds ’n verlies van sowat R2 miljard gely weens verlore aksynsbelasting op sigarette. Sy verwagte inkomste uit sigarette vir die jaar sou R14,461 miljard gewees het, oftewel R1,2 miljard per maand.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.