Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Verdrinkte hond’ ongedeerd op strand gevind

Frodo, die bokserhond wat verlede naweek op ’n Oos-Kaapse strand verdwyn het en wie se eienaars aangeneem het hy het verdrink, is ’n week later ongedeerd gevind sowat 100 m van waar hy verdwyn het.

Die hereniging op Orient-strand in Oos-Londen was volgens Leon Kemp, Frodo se mense-pa, niks minder as ’n wonderwerk nie.

Die 15 maande oue Frodo het verlede Sondag saam met sy broer, Sam, op die strand speels agter voëls aangehardloop.

Kemp het sy rug vir ’n paar sekondes op die honde gedraai om met ’n hengelaar te praat.

Leon Kemp se seun, Sean, saam met hul twee bokserhonde, Frodo (voor) en Sam, op die bank. Foto: Verskaf

“Die honde ken net een spoed en dit is volspoed. Hulle hardloop sommer in ’n paar sekondes 100 m ver.

“Gewoonlik kom hulle saam-saam terug, maar net Sam het dié keer teruggekom en dit was baie eienaardig.”

Kemp het dadelik in die rigting gestap waar Frodo en Sam gespeel het en op ’n paar rotse met poele afgekom wat tot in die see lei.

“Die see was besonder rof daardie dag. Die deinings was tot 6 m hoog.”

Hulle het die soektog na die hond net soos ’n soektog na ’n mens hanteer – hulle het gesê daar is geen verskil nie, ’n lewe is ’n lewe.

Die vermoede was dat Frodo deur die branders weggesleur is.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), wat met opleiding in die gebied besig was, is na die toneel gestuur en het na Frodo help soek.

“Dit was ongelooflik om te sien hoe die NSRI te werk gaan. Die manne het met hul duikpakke oral op die rotse gesoek terwyl die boot in en uit by die rowwe seewaters was.

“Hulle het die soektog na die hond net soos ’n soektog na ’n mens hanteer – hulle het gesê daar is geen verskil nie, ’n lewe is ’n lewe.”

Die NSRI se soektog was onsuksesvol, maar die Kemp-gesin het elke dag daarna hul soektog voortgesit voordat hulle Saterdag ’n oproep van die strandbestuurder ontvang het wat sê ’n hond wat soos Frodo lyk, hardloop op die strand.

Kemp sê hy was skepties, maar hy en sy seun, Sean, is dadelik strand toe. Dit was inderdaad Frodo en ’n blye weersiens het gevolg.

“Hy het ons onmiddellik herken en na ons gehardloop. Ek kon nie glo hoe goed hy gelyk het nie, hy was nie eers maer nie. Dit is ’n wonderwerk dat ons hom lewend teruggevind het en die NSRI se rol hierin was uitstekend.”

Terug by die huis het Sam en die Kemps se boerboel, Max, heeldag met waaiende sterte aan Frodo geruik.

“Die drie is nou onafskeidbaar. Sam het die afgelope week so getreur, want hy en Frodo het alles saam gedoen.

“Dis ook die twee jong honde wat gewoonlik vir Max (8 jaar) ’n tweede asem gee.”

Meer oor:  Nsri  |  Leon Kemp  |  Frodo  |  Oos-Kaap  |  Vermis  |  Strand  |  Vedrink  |  Hond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.