Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Verjaardagrit end in tragedie vir hegte vriendinne

’n Vreugdevolle rit om ’n spesiale verjaardagkoek vir ’n tweejarige meisie te neem, het Vrydagaand in ’n tragedie geëindig toe die motor van twee boesemvriendinne op die N12 buite Kimberley teen ’n mynvragmotor gebots het.

Mariette Beeslaar (23), ’n onderwyseres aan die Laerskool Eureka, is in die ongeluk dood en Charné van Wyk (23), haar vriendin en ook ’n onderwyseres by die skool, moes met lewensreddingstoerusting uit die motorwrak gehaal word.

“Dit is net ’n wonderwerk dat Charné lewend uit daardie wrak geklim het,” sê Lily Geerdts, Van Wyk se tante.

Die ongeluk het Vrydag omstreeks 18:45 by die kruising op die N12 by DG Carriers in Kimberley gebeur. Die vriendinne was na Beeslaar se ouers se plaas op pad om ’n verjaardagkoek te neem vir haar susterskind wat Saterdag verjaar het.

Volgens Geerdts het Izelle Beeslaar, Mariette se ma, haar na die ongelukstoneel gehaas toe sy die tyding gekry het.

Geerdts sê dit is in dié stadium nog onduidelik wat die ongeluk veroorsaak het.

Van Wyk is in ’n ernstige toestand en met veelvuldige beenbreuke na die Mediclinic Gariep in Kimberley geneem.

Charné van Wyk en Mariette Beeslaar was Vrydagaand in 'n ongeluk met 'n mynvragmotor betrokke. Mariette het in die ongeluk omgekom en Charné is in 'n ernstige toestand in 'n hospitaal in Bloemfontein. Foto: Facebook/Lily Jacqueline Geerdts

Geerdts sê hulle kon met die hulp van vriende en familie daarin slaag om Van Wyk na die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein oor te plaas omdat die hospitaal in Kimberley weens die hoë voorkoms van koronavirus-pasiënte nie meer morfien gehad het nie.

Van Wyk is hier in die hoësorgeenheid opgeneem, waar haar toestand Sondag gestabiliseer is.

Haar ma, Ilsa, woon in Bloemfontein en kan haar hier ondersteun.

Geerdts sê Van Wyk sukkel om Beeslaar se dood te verwerk.

“Ek kry haar so jammer. Hulle was so jonk en na aan mekaar en was ook woonstelmaats.”

Lt. kol. Dimikatso Mooi, polisiewoordvoerder, het die ongeluk bevestig en sê die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Ek kry haar so jammer. Hulle was so jonk en na aan mekaar en was ook woonstelmaats.

Manie Verreynne, skoolhoof, het die nuus in ’n boodskap aan ouers van die skool gedeel en gesê dit is met groot heimwee en smart dat hy hulle moet meedeel dat Beeslaar dood is.

“Ons innige meegevoel gaan met die Beeslaar-familie.”

Geerdts het Saterdag op Facebook gevra dat vriende en familie vir Van Wyk en ook die Beeslaar-familie moet bid.

“Al ons dank aan die familie en vriende wat gehelp het om haar na Bloemfontein te bring. Mariette is na ons Hemelse Vader. Ons vra dat julle ook vir haar familie en vriende in hierdie moeilike tyd sal bid. Elke sekonde, elke dag en elke oomblik tel.”

Michelle van der Lith, ’n vriendin van Beeslaar, het in ’n roerende boodskap aan haar geskryf: “Ons harte is so seer en woorde is min. Als voel nog so onwerklik. Jy was ’n mens vol grappe met ’n hart van goud, ’n steunpilaar, ’n sussie, ’n vriendin en ’n dogter. Dit is leeg sonder jou. Dit is stil sonder jou. Ek gaan jou vreeslik baie mis.”

Meer oor:  Mariette Beeslaar  |  Kimberley  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.