Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Verkneukel jou aan Keukenhof

Met die aanbreek van die Europese lente stroom duisende mense van oor die aardbol heen na een van die wêreld se grootste blommetentoonstellings by Keukenhof naby Lisse buite Amsterdam in Nederland.

Tulpeparadys: Die jaarlikse Keukenhof-blommetentoonstelling waarheen gemiddeld 1,4 miljoen mense van oor die wêreld heen kom, is in volle kleureprag. Hier sit Ksenia Has-Kovalova van die Ukraïne in 'n geel tulpebedding.Foto: Marietjie Gericke

Kaartjies vlieg behoorlik vir ’n bustoer van Amsterdam af na dié blommeskouspel wat vir die 70ste keer aangebied word. Toeriste pendel ook met busse of motors van verafgeleë Europese lande om die veelkleurige blommeprag en argitek-ontwerpte tuine met fonteine te aanskou. Om in die restaurante op die perseel te kuier en in winkels geskenke te koop is natuurlik ’n bonus.

Bart Siemerink, Keukenhof-direkteur, sê die 32 ha wat nou met hoofsaaklik veelkleurige tulpe in ’n kleureparadys omskep is, word sedert 1949 al bedryf.

Die tentoonstelling spog deesdae met ’n opbrengs van sowat €25 miljoen per jaar. Dit sluit nie net kaartjieverkope in nie, maar ook die huurgeld van die winkels en vir verpakkingswerk.

Siemerink sê dit is nie eens nodig om die Keukenhoftuin en -tentoonstelling te bemark nie, want dit bemark homself.

“Ons kry meer toeriste as waarop ons hoop en die meeste reisagentskappe sluit ’n besoek aan Keukenhof vir reisigers in.”

Die tuin het 50 permanente en sowat 1 300 deeltydse werkers. Vir die toeriste is die tuin jaarliks van middel Maart tot middel Mei oopgestel.

Siemerink sê soos verlede jaar word sowat 1,4 miljoen mense verwag.

Stefan Slobbe, wat in beheer van die park en sy tuiniers is, sê die grootste werk is die plant van die bolle, wat gewoonlik kort ná Kersfees afgehandel is. In die pas afgelope Nederlandse winter is die gras gesaai en daarna is die graskante geknip, die dooie takke uit die bome gehaal en die paaie gevee.

Die argitektonies ontwerpte tuine waarin die tulpbolle geplant word op grasgroen grasperke en blink watervalle skep ‘n heerlike atmosfeer waarin die toeriste van oor die wêreld heen nou met hulle kameras baljaar. Die verskeidenheid restaurante in die Keuken-tuine word ook druk besoek.Foto: Marietjie Gericke

Keukenhof kry jaarliks sowat 1 500 medianavrae van oor die wêreld heen. Lugdienste plaas ook artikels oor Keukenhof in hul glansbrosjures.

Die Keukenhof-grond, wat aan Jacoba van Beieren behoort het, is sedert die 19de eeu die eiendom van ’n stigting. In 1949 het tien tuiniers sowat 32 ha van die grond gekry om gratis blomtuine aan te lê. Dit geld tot vandag toe. Mense kan 17 km ver op plaveipaadjies wandel.

Van die 1,4 miljoen besoekers die vorige jaar was sowat 250 000 van Nederland, 170 000 uit Duitsland, 100 000 uit Amerika en sowat 80 000 uit lande soos China, Frankryk en Indië.

By Keukenhof word blombolle dikwels volgens die “lasagne-metode” geplant. Hiervolgens word daar in een blombedding soms twee of drie verskillende soorte blombolle onder mekaar geplant. As die een groep se blomme soos ’n salvo uitgeskiet het, kom die volgende aan die beurt. Ook word daar met kleure en ontwerpe oral in die tuine geëksperimenteer.

Ander soorte blomme kan ook hier gesien word. In ’n verhitte vertoonhuis is ’n groot verskeidenheid orgideë.

* Marietjie Gericke, spesialisjoernalis van Netwerk24 en Volksblad, is tans op besoek aan Nederland as genoot by die ZA Huis in Amsterdam.

Die Keukenhof-tuin naby Amsterdam van 42 ha is weer vanjaar 'n sprokiesparadys wat vir toeriste voel of hulle voortydig in die hemel beland het. Hier kan die blommeprag gesien word. Foto: Marietjie Gericke
Een van die talle potte bloedrooi tulpe in die Keukenhof-tuin wat toeriste na hul kameras laat gryp. Die 70ste Keukenhof-blommeskou, wat jaarliks deur gemiddeld 1,4 miljoen toeriste besoek word, is die grootste blommeskou ter wêreld. Die skou is jaarliks tussen middel Maart en middel Mei en gedurende die twee maande is die blommeland naby Amsterdam 'n sprokiesparadys.Foto: Marietjie Gericke
Meer oor:  Nederland  |  Blomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.