Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vermiste Anchen: Selfoon glo in Bishop Lavis

Die selfoon van ’n 13-jarige meisie van Vredekloof, Brackenfell, wat Vrydagaand laas gesien is, is glo Maandag na Bishop Lavis nagespeur.

Anchen Muller (13) se SIM-kaart is vermoedelik uit haar selfoon gehaal.

’n Hartseer Hanlie Ferreira het Dinsdag gesê haar groot vrees is dat ’n ouer man haar kind van die huis weggelok het. “Ek wil nie daaraan dink nie.”

Anchen Muller, ’n gr.7-leerling by die Laerskool Gene Louw in Durbanville. Foto: Verskaf

Anchen sou die naweek by vriende in Table View oorgeslaap het. Volgens Ferreira is Anchen se selfoon al sedert Saterdagoggend af. Dit het Ferreira nog nie onrustig gemaak nie. Sy sê Anchen is soms agtelosig en “worry” nie eintlik as haar battery pap is nie.

Sondagaand om 22:00 het Ferreira erg kriewelrig geword toe Anchen nog nie by die huis was nie. Dit was toe reeds verby die afsnytyd vir wanneer sy by die huis moet wees.

Haar selfoon was steeds af.

Ferreira het Maandag eers uitgevind dat haar kind twee Facebook-profiele het. Sy het Dinsdag gesê sy het nie toegang tot een van die profiele nie.

“ ’n Onderwyser by die skool het gister aan my gesê dat Anchen glo op ’n WhatsApp-groepie van skoolmaats al gesê het sy gaan wegloop. Hoekom sy dit wou doen, weet ek nie.”

Anchen het glo aan haar vriende genoem dat Ferreira en haar verloofde baie baklei.

“Ja, daar is tye dat ons hard met mekaar praat, maar dit gaan so in elke verhouding. Ons baklei nie met mekaar nie. Ons baklei ook nie met ons kinders nie,” sê sy.

Anchen Muller, ’n gr.7-leerling aan die Laerskool Gene Louw in Durbanville is sedert Vrydag vermis. Foto: Vermis

Volgens Ferreira is Anchen Vrydagaand kort ná 19:30 laas by hul huis in Chelsea Estate in Vredekloof, Brackenfell, gesien. Sy het vir haar ma gesê dat die ouers van ’n maat haar gaan oplaai om hulle na ’n Bybelbyeenkoms by Butterfly World buite die Paarl te neem.

Die maat en dié se ouers het glad nie van die afspraak geweet nie. Sy is ook nie deur hulle opgetel nie.

Sy sou glo ná die Bybelbyeenkoms by die maat in Table View gaan slaap het.

Ferreira sê hoewel sy die maat en dié se ouers al ontmoet het, het sy nooit hul kontakbesonderhede gevat nie.

“Ek kan my nou skop,” sê sy. Ferreira weet ook nie of haar kind ’n kêrel het nie.

Sy sê sy kon Sondagaand glad nie slaap nie en het tot 02:00 Maandag by die kompleks se hoof-ingang gewag in die hoop dat haar kind by die huis sou opdaag.

Sy het Maandagoggend vir Anchen se pa, Reynhardt Muller (35) gebel en vir hom gesê Anchen is vermis.

Muller het haar onmiddellik as vermis by die Brackenfell-polisie aangemeld.

Intussen lyk dit asof ’n private speurder, ene André, geld uit Ferreira en Muller probeer maak. Die man het Ferreira glo R8 900 gevra om Anchen se selfoon se Imei-nommer te kry. Hy selfoon kan deur middel hiervan opgespoor word. Hy het ook ’n verdere R2 500 gesoek om ’n “span op die grond te sit om na haar te begin soek”.

Anchen, ’n gr. 7-leerling aan die Laerskool Gene Louw in Durbanville, het met haar verdwyning ’n kakiekleurige baadjie, ligte denimbroek en grys stewels aangehad. Sy is blond en sowat 1,7 m lank.

Enigiemand met inligting kan ao. Bernie de Kock by die Brackenfell-polisie by 084 586 6027 bel.

Meer oor:  Anchen Muller  |  Vredekloof  |  Durbanville
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.