’n Paartjie van Kleinmond wat sedert Donderdag vermis was en op Facebook gesoek is, was al die tyd in polisieaanhouding in Hermanus.
Jackie Petermann (48) en haar vriend Wynand de Klerk (52) is Donderdag in hegtenis geneem vir bedrog, regsverydeling en korrupsie, en het Donderdagnag in die polisieselle deurgebring.
Katie Blake, Petermann se dogter, het hulp gevra op Facebook om haar ma en haar vriend op te spoor, omdat sy bekommerd was dat hulle iets oorgekom het.
“Sy is laas by die veearts gesien met haar drie katjies wat sy Donderdag laat ondersoek het. Die laaste kontak wat ek met my ma gehad het, was Woensdagaand. Hul fone was sedert Donderdag af,” het Blake gesê.

Die foto wat Jackie Petermann se dogter op Facebook gedeel het. Foto: Facebook/Katie Blake
Sy het haar ma en De Klerk as vermis aangemeld by die Hermanus-polisiekantoor. “Ons het kontak met die polisie en ek het my ma se bankbesonderhede aan hulle gegee sodat hulle kan kyk wanneer laas dit aktief was en waar,” het sy Maandagmiddag gesê.
Sy was bekommerd oor hulle omdat daar nie tekens in hul huis was dat hulle van plan was om lank weg te wees nie.
“Die bed was opgemaak, al die meubels was daar en die bodeel van die houtdeur was oop. Net die veiligheidshek was gesluit,” het Blake gesê.

Wynand de Klerk wat saam met Petermann in hegtenis geneem is. Foto: Verskaf
“Ek was nie daarvan bewus dat my ma vermis is nie, want ek bly in Kaapstad en ons praat nie elke dag nie. Klaarblyklik het die buurman die verhuurder gekontak om te vra dat iemand kan gaan kyk wat aangaan, aangesien my ma gewoonlik haar wasgoed ophang en dieselfde dag afhaal, maar die wasgoed was al twee of drie dae op die draad en het by die bure se tuin ingewaai.”
Nie lank daarna nie het sy aan Netwerk24 gesê dat haar ma-hulle gevind is en dat hulle verkies om verdere besonderhede privaat te hou.
Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het Maandag gesê die besonderhede oor die paartjie se inhegtenisneming is deel van die ondersoek teen hulle en hy sal nie daaroor kommentaar lewer nie.
Hy het wel bevestig dat provinsiale speurders die saak teen die paartjie hanteer.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, kon nie betyds bevestig wanneer die paartjie weer in die hof verskyn en of hulle op borgtog vrygelaat is nie.