Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vermiste se lyk lankal begrawe

’n Jaar en vyf maande nadat hy vermis geraak het, het die familie van Dean Jafta uitgevind dat die polisie reeds verlede jaar sy lyk gekry het.

Die proses om ’n onbekende lyk met ’n vermiste persone-dossier te verbind is blykbaar destyds nooit gevolg nie.

Sizakele Nkosi-Malobane, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng, het die familie Maandag belowe dat koppe hieroor gaan rol.

Dean (19) se pa, Denzil Jafta, wissel tussen woede en hartseer.

“My kind is begrawe as ’n John Doe. ’n Anonieme lyk.

“Ons het Dean op 19 Mei 2017 as vermis aangemeld, foto’s versprei. Nou hoor ons sy lyk is reeds op 25 Mei 2017 naby Blue Hills in Midrand gekry.”

Dean Jafta

Hy is in Augustus daardie jaar begrawe.

“Intussen soek ons al ’n jaar en vyf maande na hom,” sê Jafta sr. Die polisie het Donderdag reeds vir Jafta sr. en sy broer, Alison, gevra om na die genl.maj. André Wiese, gebiedsbevelvoerder van die Tshwane-Oos-polisie, se kantoor te kom.

Hier is hulle ingelig dat die nuwe ondersoekspan uitgevind het waar Dean se lyk is.

“Maar ons moes die nuus geheim hou, want die polisie wou lasbriewe kry vir sekere deursoekings en hulle was bang dit belemmer die ondersoek?” sê Jafta sr.

Dean se ma is in die buiteland.

Alison het haar Maandagmiddag met die nuus gebel.

Kort daarna het gemeenskapslede by die huis in Eersterust, Pretoria, aangekom om die familie te ondersteun.

Terwyl hulle gesange en Psalms gesing het, het ’n polisiekapelaan met Dean se gesinslede gesels.

Dean se susters, Candice en Michelle, het toe rooi-oog buite gaan sit.

“Ons is verward. Teleurgesteld. Hierdie is goed wat lankal moes gebeur het,” het Candice gesê.

Ons is verward. Teleurgesteld. Hierdie is goed wat lankal moes gebeur het.

Nkosi-Malobane het ook saam met Wiese en ander bevelvoerders by die huis opgedaag.

Sy het vertel hoe Jafta sr. haar in Mei by ’n gemeenskapsvergadering vertel het van sy vermiste seun, hoe hy sukkel moet die plaaslike polisie.

Wiese en nuwe ondersoekers is toe by die saak betrek.

Vyf mense is sedert Maart 2018 gearresteer op aanklagte van diefstal van Dean se voertuig, menseroof en sy moord. Een verdagte is sedertdien vermoor en die res sal in November in die hof verskyn.

Dean was egter steeds weg.

“Die span speurders onder genl. Wiese het teruggegaan op die vorige ondersoekbeampte se werk en gekyk wat is misgekyk.

“Hulle het selfoonrekords nagespoor en gesien dat sekere mense op dieselfde tyd op dieselfde plek was in die stadium wat Dean weggeraak het.

“Dit het hulle na die Midrand-polisie gelei. Hulle het gevind dat daar op 25 Mei 2017 ’n lyk gevind is. Hy is vyf of ses keer geskiet.

“Dit was as ’n moord geregistreer, maar daardie ondersoekbeampte het nooit sy soektog buite Midrand geneem nie. Ja, foto’s en vingerafdrukke is van die lyk geneem, maar daar is baie prosedures nié gevolg nie.

“Die lyk is as ’n onbekende oorgeplaas na die Hillbrow-lykshuis en later begrawe,” het Nkosi-Malobane verduidelik.

Die nuwe ondersoekspan kon bepaal waar Dean begrawe is.

Foto’s wat destyds van die lyk geneem is, is Maandag aan Jafta sr. gewys, sodat hy kon bevestig dat dit sy seun is.

Die oorskot gaan nou opgegrawe word, waarna DNS-toetse sal bevestig of dit sy oorskot is.

Benewens die Midrand-ondersoekbeampte, sal daar ook tugstappe volg teen die ondersoekbeampte van die Eersterust-saak, wat Dean se verdwyning moes ondersoek wees.

“Hier was duidelike nalatigheid,” het Nkosi-Malobane gesê.

Hier was duidelike nalatigheid.

Jafta sr. het baie vrae. Soos hoe die polisie se honde-eenheid destyds, op 22 en 23 Mei 2017, ook in die omgewing gaan soek het waar Dean se foon laaste aktief was, maar niks gekry het nie.

“Tog is sy lyk daar, op 25 Mei daai jaar, gekry.

“Nou . . . nou het ek net bene om te begrawe,” sê hy.

Meer oor:  Dean Jafta
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.