Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vermoorde arts se man ook dood ná hy aanval eers oorleef
Dries van Zyl en sy vrou, dr. Erna Britz-Van Zyl.

Dries van Zyl is Saterdag, vier maande nadat hy tydens ’n rooftog ernstig aangerand en sy vrou vermoor is, dood.

Dit blyk dat die 78-jarige man tydens die 29 Januarie-aanval breinbeserings opgedoen het, wat subtiel eers ligte, en later ernstige bloeding op die brein veroorsaak het.

Die afgetrede fisikus en senior programmatuuringenieur, wat ook by die Pelindaba-kernkragnavorsingsentrum gewerk het, en sy vrou, dr. Erna Britz-Van Zyl (73), ’n huisarts wat steeds by pasiënte, staatshospitale en programme vir mediese studente betrokke was, is daardie Vrydagoggend in hul huis in Erasmusrand, Pretoria, oorval.

Dit moes vroeg gewees het, want Van Zyl was nog in die bed en die laaste keer dat sy vrou se foon gebruik is, was nog voor 07:00.

Van Zyl het glo wakker geword toe iemand hom aanrand, met die gedagte, het hy later aan familie vertel, dat hy vir ’n oomblik gedink het hy het ’n nagmerrie voordat hy besef het hy word regtig geslaan.

Die egpaar is styf vasgebind en vermoedelik vir verskeie ure aangehou en aangerand. Britz-Van Zyl het vermoedelik versmoor weens lappe wat in haar mond gedruk is.

Hul een seun, Gusti van Zyl, het die volgende dag op hulle afgekom toe hy nie sy ouers telefonies in die hande kon kry nie. Hy het hulle steeds vasgebind gevind. Sy ma was reeds dood.

Van Zyl is met ernstige aanrandingsbeserings in ’n hospitaal opgeneem en eers byna ’n week later ontslaan.

Gusti het Dinsdag gesê sy pa het daardie Saterdag toe sy ouers gevind is reeds ’n breinskandering ondergaan.

Hoewel geen bloeding gevind is nie, blyk dit dat hierdie tipe beserings gewoonlik eers ná ’n verloop van tyd wys.

Dries van Zyl (78) kort ná die aanval wat hy destyds oorleef het.

“Daar het drukking op sy brein opgebou. Einde Maart het sy toestand skielik verswak. Daar is bloeding aan albei kante van sy brein gevind, wat vermoedelik ontwikkel het ná die beserings wat hy in die aanranding opgedoen het,” sê Gusti.

Daar moes twee keer ’n kraniotomie op Van Zyl uitgevoer word om die bloeding te dreineer. Dit is ’n breinoperasie waar ’n stuk van die skedel tydelik verwyder word om ’n besering of bloeding op die brein te behandel.

Van Zyl was nege weke lank gehospitaliseer, insluitend die rehabilitasie waarvoor hy aan die begin van Mei gestuur is.

“My pa het op Saterdag 29 Mei gesterf,” het Gusti gesê.

Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.

• Thabo Nkomo (20), Coney Shongwe (22) en Richard Nhlapo (30) is binne ’n week ná die aanval op die dokter en haar man in hegtenis geneem.

Dries van Zyl is destyds eers dae ná die aanval uit die hospitaal ontslaan waar hy vir aanrandingsbeserings behandel is.

Luidens die huidige klagstaat word hulle aangekla van die moord op Britz-Van Zyl, poging tot moord op Dries van Zyl deur hom ook vas te bind en onder meer te skop en te slaan, huisbraak met die opset om ’n misdaad te pleeg, roof met verswarende omstandighede en diefstal van die egpaar se voertuig. Die aanvallers is ook vort met ’n televisie, ’n beursie, ’n pistool, ’n klankstelsel en Euro-note.

Die drie sou in ’n stadium aansoek om borgtog doen, maar het dit destyds laat vaar omdat, het die hof gehoor, Nhlapo nie ’n vaste adres het nie, daar ander hangende sake teen die beskuldigdes is en “daar oproerigheid onder die gemeenskap is omdat een van die misdade teen ’n gewilde dokter in die gemeenskap was”.

Die verdagtes is steeds in aanhouding.

Meer oor:  Dr. Erna Britz-Van Zyl  |  Oorleef  |  Rooftog  |  Beseer  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.