Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vermoorde Bonnievale-boer was ’n ‘lagmens’ – dominee

Hy was ’n “warm, humoristiese, lagmens”, het ds. Willem Liebenberg van die NG kerk in Bonnievale in die Wes-Kaap Dinsdag gesê oor Tool Wessels (55) wat vroeg Maandagaand in ’n plaasaanval vermoor is.

Tool Wessels saam met sy dogters, Jana en Annelie, en sy vrou, Liezel. Foto: Verskaf

Wessels, wat op die plaas Kapteinsdrif net buite die dorp met vrugte en wingerd geboer het, het pas by die huis aangekom nadat hy van sy werknemers gaan aflaai het.

Hy sou daarna na ’n kooroefening gaan en sy vrou, Liezel (55), was op pad na ’n sel-groep. Wessels was ’n bekende gesig in die gemeenskap en Liezel, ’n kranige tweekampatleet, het Maandag voor die aanval nog geoefen.

Lt.kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het gesê met Wessels se aankoms omstreeks 18:30 by die huis het vier gewapende mans hulle oorval. Hulle is vasgemaak, met kookwater verbrand en gyselaar gehou terwyl die rowers kontant en ander besittings gesoek het.

Volgens Liebenberg het Liezel, wat in die bors gesteek is, in ’n stadium flou geword. Nadat sy haar bewussyn herwin het, het sy daarin geslaag om weg te kom en na die bure te ry om hulp te kry. Sy het ook die polisie ontbied.

Hul dogters, Annelie en Jana, is dadelik van die voorval in kennis gestel en het hulle gehaas na die Mediclinic Worcester, waar hul ma opgeneem is.

Volgens Traut is Wessels se lyk naby ’n pomphuis, sowat 200 m van die huis, gevind.

Liebenberg het gesê Liezel, wat met haar opname in die hospitaal nie van haar man se dood bewus was nie en eers later daaroor ingelig is, is tans in ’n stabiele en rustige toestand met haar kinders en familie wat by haar is.

Liebenberg het die grootste deel van die aand by die Wessels-gesin gebly om hulle te ondersteun.

“Die hele gemeenskap is stom, geskok en getraumatiseer,” het hy gesê.

Die NG kerk Welgemoed se boodskap. Foto: Instagram

“Tool was ’n joviale mens. Hy het nie vyande gehad nie en was ’n geliefde vriend. Hy het altyd so baie gelag,” het Liebenberg hom beskryf.

“Hy sou ’n mens altyd help, maak nie saak wat nie. Hy was ’n voorbok vir alles en het ’n groot talent gehad om met mense te werk.”

Intussen stroom boodskappe van medelye op sosiale media in.

“Ons steek vanoggend ’n kers aan en dink in besonder aan die gebroke gemeenskap van Bonnievale,” het die NG kerk Welgemoed op Instagram gesê.

Ander boodskappe is op die dogters se eie Facebook-blaaie geskryf.

“Annelie en Jana. Ek kyk op na die berge, waarvandaan sal daar vir my hulp kom. My hulp kom van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie, Hy wat JULLE beskerm, slaap nooit nie.

Die Here sal jou beskerm, waar jy ook al gaan, nou en vir altyd. Ek is lief vir jou Ans,” het Lize-Marie Viljoen op Annelie se blad geskryf by ’n foto van haar en haar suster.

Volgens Traut soek die polisie op die oomblik na die vier aanvallers wat met twee vuurwapens van die plaas gevlug het.

Geen reëlings vir Wessels se begrafnis is nog getref nie.

*Dit is die tweede moord binne vyf maande in Bonnievale-distrik. Piet en Elmien Steyn van die plaas Zandfontein naby die dorp is op 13 Desember 2018 vermoor in hul bed gevind.

Die moorde is ontdek toe die polisie na hul plaas ontbied is nadat hul voertuig verlate op ’n ander plaas in die omgewing gevind is.

Medelye stroom in op sosiale media ná die moord op Tool Wessels van Bonnievale. Hier is sy twee dogters, Jana (links) en Annelie.Foto: Facebook
Meer oor:  Tool Wessels  |  Bonnievale  |  Plaasmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.