Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vermoorde onnie Saterdag in Swellendam begrawe

Allison Plaatjies (26), die jong onderwyseres wat twee weke gelede in Clanwilliam vermoor is, word Saterdag in Swellendam, haar tuisdorp, begrawe.

Plaatjies het onlangs in Clanwilliam begin skoolgehou.

Allison Plaatjies word Saterdag in Swellendam begrawe.

Lizel Plaatjies, haar tannie, sê hul geliefde “Sussie” se begrafnisdiens is Saterdag om 11:00.

’n Gedenkdiens word ook vir Donderdag om 19:00 beplan. Albei dienste sal in die Anglikaanse kerk St. Luke’s in Swellendam gehou word.

Lizel het Dinsdag gesê dit gaan emosioneel effens beter met Plaatjies se ma, Yvonne. “Ons vat dit dag vir dag.”

Sy sê Yvonne is baie stil. “Sy het nog nie eintlik baie gehuil nie, maar ons hou haar dop.”

Woensdagaand word ook ’n gedenkdiens in die Verenigde Gereformeerde kerk in Clanwilliam gehou.

“Ons was aanvanklik net van plan om ’n gedenkdiens in Swellendam te hou, maar daar was te veel mense in Clanwilliam wat gesê het hulle wil ’n laaste eer aan haar betoon.”

Plaatjies se lyk is op Sondag 27 Oktober omstreeks 19:00 in haar huurwoonstel in Katjiepieringstraat in Clanwilliam gevind. Sy het veelvoudige sny- en steekwonde gehad.

Plaatjies was sedert Januarie vanjaar ’n onderwyser by die Sederberg Primêre Skool.

Haar kêrel, Philip April (24), is weens haar moord in hegtenis geneem. Hy het verlede Woensdag in Clanwilliam se landdroshof op aanklagte van moord, motordiefstal en regsverydeling verskyn.

Die staat voer aan dat April sy meisie van 30 maande met ’n skerp voorwerp, vermoedelik ’n mes, doodgesteek en ook haar keel afgesny het.

Hulle het mekaar sowat drie jaar gelede op die Mowbray-kampus van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) ontmoet. Albei was toe onderwysstudente.

Die verkeerspolisie in Citrusdal het April glo die Sondag ná die moord in Plaatjies se motor op klagte van dronkbestuur en bestuur sonder ’n rybewys in hegtenis geneem. ’n Aanklag van moord is die Maandag by die klagstaat gevoeg.

Die saak is tot 13 November vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.