Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vermoorde onnie was ‘liefdevol, voorbeeld vir almal’
Johann en Helga van WykFoto: Facebook

Helga van Wyk (62), die Kraaifonteinse onderwyseres wat Sondagaand in haar huis vermoor is, was ’n saggeaarde, netjiese en mooi vrou wat ’n ongelooflike passie vir kinders gehad het.

Só sê Marieett van Staden (47), ’n ouer van ’n oudleerling van die Hoërskool Monumentpark, waar Van Wyk jare lank vir leerlinge van gr.10 tot 12 skoolgehou het.

Helga en haar man, Johann, was Sondagaand die slagoffers van ’n mesaanval nadat by hul huis ingebreek is. Sy is een keer gesteek en is in haar bed dood, terwyl haar man ses keer gesteek is en in die Durbanville MediClinic behandel word. 

Van Staden sê haar dogter, Michaela (nou 21), is erg geskok oor die moord op haar oudonderwyseres.

“Michaela is so hartseer. Sy onthou juffrou Helga as ’n liefdevolle, sagte mens wat regtig lief was vir haar werk,” sê sy.

Van Staden bestuur die snoepie by die skool en Van Wyk het glo gereeld kos by haar bestel.

’n Uitstalling van blomme, kerse en ’n foto ter nagedagtenis aan die vermoorde Helga van Wyk in die skool se voorportaal.
Die ingang na die Hoërskool Monumentpark in Durbanville.Foto: Ané van Zyl

“ ’n Mens kon haar altyd deur ’n ring trek. Sy was pragtig en het baie mooi na haarself gekyk. Sy was ook baie professioneel, ’n ware voorbeeld vir die leerlinge in haar klas en in die skool.

“Sy was ondersteunend en het die kinders moed ingepraat, en was baie gewild onder hulle. Dit is vreeslik tragies. Niemand verdien om só te sterf nie.”

Van Staden, wat ook in Kraaifontein woon, sê sy en haar man is ná die aanval op hul hoede en paraat by hul huis – veral snags.

“’n Mens hoor baie van mense wat aangeval word en hul lewens verloor, maar dit is anders as dit met iemand gebeur wat jy ken,” sê sy.

“Ons hou nou maar al die deure gesluit en maak seker niemand is alleen by die huis nie. Dit is aaklig om so te leef.”

Christi van Zyl, adjunkhoof van die skool, sê ’n gedenkdiens word Vrydag om 09:00 vir Van Wyk in die skoolsaal gehou.

“Alle personeel, leerlinge, oudleerlinge en oudkollegas is welkom om dit by te woon,” sê Van Zyl.

Helga en haar man se kinders sal na verwagting die diens bywoon.

Volgens Van Zyl ondersteun die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) die personeel en leerlinge by die skool, en het die skool al besoek.

Met Netwerk24 se besoek aan die skool het dit gelyk asof die leerlinge Dinsdag teruggekeer het skool toe en alles normaal voortgaan nadat hulle Maandag huis toe gestuur is ná die nuus dat hul onderwyseres vermoor is.

Bronagh Hammond, woordvoerder van die WKOD, het hul medelye oorgedra aan die familie, vriende en skoolgemeenskap. Hy het bevestig dat die skool Dinsdag oop is en berading verskaf.

Medelye stroom steeds in op sosiale media en die Kaapse operasanger Christine Bam is een van die mense wat gereageer het.

“Rus in vrede, Helga van Wyk. Wat ’n eer om jou te ken, saam te werk en te sien hoe jy lewens verander het,” skryf Bam op Facebook.

“Ek dink aan haar man in die hospitaal, kinders en familie. En natuurlik, aan almal wat in die 20 plus jaar wat sy Afrikaans gegee het, in haar klas was. Mag die Here julle lei in dié tyd.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.