Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Verrassing! ‘n Rol vir Carlo (13) in Suidooster

’n Paar maande gelede het die 13-jarige Jadon Booysen Suidooster nog nie eers self gesien nie. Nou speel hy in dié kyk­NET-sepie!

Jadon Booysen (13) is die nuwe gesig op Suidooster. Hy vertolk die rol van Carlo. Foto: Marzahn Botha

“Ons het nie daai (DStv-)pakket gehad nie. Ek het gehoor van Suidooster by my vriende in die klas. Hulle het met mekaar gepraat van antie Bridgette (gespeel deur Denise Newman) en goed. Dit was laasjaar en toe vra ek: Wat is Suidooster? Toe weet ek niks van Suidooster af nie. Toe sê ek ag, dis ’n boring stuk. En nou is ek in die boring stuk,” skerts hy.

Met sy mollige wange en lekker bry het Jadon binne ’n japtrap diep in Suidooster-kykers se harte geklim.

Hy vertolk die rol van Carlo, wat glo die langverlore seun van Tyron Daniels (Maurice Paige) is.

Jadon is in gr. 8 aan die Silversands High School in Kuilsrivier, Kaapstad. Hy het geen formele opleiding in toneelspel nie en het nooit kon dink hy gaan ’n vaste rol in ’n sepie kry nie.

‘Ons het nie daai pakket gehad nie.’

Sy gesin woon in die nedersetting Happy Valley. In Maart verlede jaar het sy ouers ’n sopkombuis daar begin as deel van ’n kerkinisiatief.

Jadon se ma, Wilma, is toe voorgestel aan Loretta Joseph wat ’n organisasie sonder winsbejag bestuur.

In Februarie het Loretta se dogter Lauren Joseph (Zoë October in Suidooster) haar gevra of sy dalk van ’n seun weet wat nie skaam sal wees om voor die kameras te verskyn nie. Loretta het Wilma gevra, maar dié het haar skouers opgetrek. Sy het ’n dansgroep van kinders in die ouderdomsgroep, maar Jadon is die enigste seun.

“Toe sy vir my sê van dit, sê ek ek het nie eintlik seuns in die groep nie. Dis net meisiekinders. Maar ek sal in die gemeenskap gaan kyk vir mense wat ek ken,” sê Wilma.

Jadon Booysen as Carlo in Suidooster. Foto: kykNET

Sy het eers nie daaraan gedink om haar eie seun voor te stel nie, totdat Loretta self oor hom uitgevra het. Op grond van ’n foto en klankopname is Jadon genooi om sy eerste oudisie te kom aflê.

“Ek was nie soos in nervous-nervous nie, maar ek was soos in ek ken nie die goed nie,” sê Jadon. “Dit was die eerste keer wat ek myself op ’n groot kamera sien!”

Die oudisie het toe vlot verloop en nou speel hy die rol van Carlo.

“Hy is baie stillerig. Ek is nie stillerig nie,” sê Jadon prontuit.

Wilma was baie skepties oor haar seun se verskyning op TV.

“In die algemeen is hy nie ’n kind wat hou van vasmaak nie. So dit het my ’n bietjie bekommerd gemaak toe ons uitvind waaroor als gaan. Almal gaan ’n groot ophef wil maak en ek is so skepties [mense] gaan my kind nou lastig val. Ons het nie eens vir my familie almal gesê nie.”

’n Week voor sy eerste verskyning het talle mense in die gemeenskap ’n Suidooster-lokprent gesien waarin Jadon verskyn – en die aap was uit die mou.

“Die gemeenskap is baie trots,” sê Wilma. “As julle nou nie Happy Valley ken nie, dit was ’n baie bendegeteisterde gebied. Dit is nie meer so erg soos vantevore nie. Dwelms en alkohol is steeds groot in daardie plek. Baie mense weet nie baie van die gemeenskap nie.”

En geniet hy sy nuwe werk op stel? “O ja! Dis goed om tussen die akteurs te wees. Ek leer ook baie van hulle af.”

Hoewel Carlo in die reeks nie veel ooghare vir Lee-Ann Jacobs het nie, is Jadon gaande oor die aktrise wat die rol speel, Portia Joel. Sy en Maurice is veral die akteurs na wie hy opsien op die stel.

Wilmer Müller, die sepie se publisiteitsbestuurder, sê Jadon het vinnig deel van die Suidooster-familie geword.

“Hy is ’n gebore akteur, ongelooflik professioneel en altyd baie goed voorbereid, wat ’n mens sal laat dink hy het al jare se ondervinding. Dit is vir ons as produksie nog altyd belangrik om nuwe talent geleenthede te gee en te help ontwikkel.”

Meer oor:  Suidooster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.