Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Verslaafde’ pastoor dobbel R4 m. weg

Die Pretoriase pastoor wat geld by lidmate geleen het, glo om kerke te stig en boekies te versprei, het sowat R4 miljoen oor die internet uitgedobbel.

Past. Fanie Bolleurs aan die preek by SyKerk Roodeplaat. Die gemeente, wat hy in 2015 gestig het, het kerk gehou by die Gabatta Lodge in Leeuwfontein, noordoos van Pretoria. Die gemeente het intussen toegemaak. Foto: Facebook

Fanie Bolleurs (52), wat in 2015 die SyKerk noordoos van Pretoria gestig het, het Vrydag deur middel van sy skuldbemiddelaar en woordvoerder, die private speurder Mike Bolhuis, erken hy is verslaaf aan dobbel. Bolleurs raam hy het geld by sowat 40 mense geleen en sowat R4 miljoen met “trading” uitgedobbel.

Rapport het verlede Sondag berig die sakeman Wilko Esterhuizen het in Februarie ’n bedrogklag by die polisie ingedien nadat hy R600 000 aan Bolleurs geleen en dit nie teruggekry het nie. Volgens Esterhuizen was die lening onder meer vir die stigting van twee gemeentes, maar een van hulle, die Nelspruit-kerk, het nooit tot stand gekom nie.

Nóg iemand het die afgelope week reguit gesê Bolleurs “moet tronk toe” en ’n ander “hy moet aan die pen ry”.

Bolleurs het voorverlede week aan Rapport gesê hy het uit die bediening bedank.

Ons het so geglo in hom. Hy weet hoe om te praat. En hy weet hoe om die Here se naam te gebruik om geld te bedel.

Drie mense het sedertdien aan Rapport gesê Bolleurs het by elk van hulle R45 000 geleen vir die druk van 3 000 boekies aan skoolkinders teen R15 stuk, met die belofte dat hulle spoedig wins uit die verkope sou maak.

“Hy (Bolleurs) is ’n fantastiese spreker. Hy sal ys aan ’n Eskimo kan verkoop,” het Des van Schalkwyk (65), ’n pensioentrekker, gesê.

Volgens Van Schalkwyk het Bolleurs hom in November laas jaar uit die bloute oor die boekies gebel. Van Schalkwyk sê hy leen nie sommer geld aan mense nie, “maar my vrou sê toe Bolleurs is ’n kerkman”.

Die pastoor het belowe hy sal die geld terugbetaal. “Hy het gesê hy sal ’n lening kan kry. Later het hy gesê ’n polis gaan uitkeer.”

Van Schalkwyk sê hy het nie ’n sent teruggekry nie en het Bolleurs by LegalWise gaan aangee.

“Ons het so geglo in hom. Ons het elke Sondag aan sy lippe gehang. Dit was die hoogtepunt van die week om na hom te luister. Hy weet hoe om te praat.

Past. Fanie Bolleurs aan die preek by SyKerk Roodeplaat. Die gemeente, wat hy in 2015 gestig het, het kerk gehou by die Gabatta Lodge in Leeuwfontein, noordoos van Pretoria. Die gemeente het intussen toegemaak. Foto: FACEBOOK

“En hy weet hoe om die Here se naam te gebruik om geld te bedel. Dít steek my dwars in die krop.”

Nico Opperman, ’n struktuur-ingenieur van Waverley, Pretoria, sê Bolleurs het hom en sy vrou in die eg verbind. In November laas jaar het die pastoor hom gebel met ’n “dilemma, maar ook ’n geleentheid”.

Bolleurs wou R45 000 leen vir die druk van die skoolboekies. “My vrou het gesê dis reg, ons vertrou vir Fanie.”

Opperman sê net drie dae later het Bolleurs weer gebel om geld te leen vir sy “forex trading”. Dié keer het Opperman geweier.

“Toe kom die verskonings oor die terugbetaling. Hy het gesê dit lyk of die skole die geld gebruik het vir ander uitgawes en hy sal met die skole baklei om die geld terug te kry. Hy het ook gesê sy dogter het ’n studiebeurs gekry en dat hy nie meer studiegeld hoef te betaal nie en my kan terugbetaal. Nog ’n keer het hy gesê geld het van sy oortrokke rekening afgegaan en hy kan nie betaal nie. Hy het ook gesê hy gaan ’n verband op sy huis uitneem.”

Bolleurs het hom in Februarie begin ignoreer wanneer hy hom bel. Volgens Opperman het ’n “klomp jongmense” geld verloor. “Hy is ’n meester-manipuleerder. Ná die hele storie is ek nie meer lus vir die kerk nie.”

’n Sakeman wat anoniem wil bly, het ook R45 000 vir die boekies voorgeskiet.

“Ek het gesê ek sal die geld direk aan die drukkers oorbetaal, maar hy het gesê ek moet dit in sy rekening betaal. Ek het niks eienaardig hiervan gedink nie, want ek het altyd gedink daar is nie ’n manier wat Fanie met geld sal wegloop nie.

Die bord by die ingang van SyKerk se Roodeplaat-gemeente, wat intussen toegemaak het. Foto: DEON RAATH

“In Desember sê hy toe die skole betaal hom nie terug nie. Toe is dit verskoning op verskoning. Ek het nie ’n sent ontvang nie, ook nie ’n oproep van hom om te verduidelik nie.

“Ek het my eie onderneming en dis moeilik nou met die lockdown. Dit sou lekker wees om die R45 000 vanaand te kon terugkry, maar ek het dit afgeskryf. Ek het my les geleer om mense nie te vinnig te vertrou nie.”

Alex Rautenbach sê as lidmaat van die SyKerk Roodeplaat het Bolleurs hom op ’n keer gebel om ’n voorskot op sy tiende te vra. Hy het dit vreemd gevind, maar “R10 000 aan hom oorbetaal”.

Volgens Rautenbach het hy R15 000 gegee vir die boekieprojek. “Ek het nie verwag dat hy dit moet terugbetaal nie.”

Verskeie mense het aan Rapport gesê hulle wil weet wat van die geld geword het wat deur lidmate geskenk is vir die bou van SyKerk Roodeplaat se kerkgebou.

Die kerk het nooit sy eie gebou gehad nie, want dienste is in sale van ander instellings gehou.

Alles weggevat

Mike Bolhuis het Vrydag namens Bolleurs gesê dié het erken hy het die geld oor twee jaar uitgedobbel met “trading”.

Bolleurs kon homself nie keer nie omdat hy verslaaf is.

Hy is nou in ’n dobbelrehabilitasieprogram. Alles is van hom weggevat, soos sy kredietkaarte. Hy kan nie eens self ’n brood gaan koop nie.

Bolhuis sê Bolleurs het erken hy het wanvoorstellings aan mense gedoen, bedrog en diefstal gepleeg. “Dit was robbing Peter to pay Paul.”

Bolleurs het kompulsief vir mense gejok en “aanhoudend vir tyd gespeel”. Al sy kommunikasie met die klaers “was om te speel vir tyd”.

Volgens hom het mense Bolleurs met die polisie gedreig. Bolhuis se onderneming doen ’n forensiese ondersoek om te kyk watter bedrae word aan wie geskuld.

Op Rapport se vraag oor wat van die geld in die beweerde boufonds geword het, het Bolhuis gesê dit sal ook ondersoek word. “Daar sal verantwoording vir elke sent gedoen word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.