Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Verslag oor Collins Khosa ís ‘finaal’

Die minister van verdediging was verkeerd – die weermagverslag oor die dood van Collins Khosa is inderdaad finaal, het die departement van verdediging en militêre veterane Vrydag gesê.

Luidens sy verklaring het Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die minister, ’n fout gemaak toe sy Woensdag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor verdediging gesê het die verslag is steeds nie finaal nie.

Sover sy weet is die saak deur die hoof van die weermag terugverwys na die interne kommissie van ondersoek en dit “mag heropen word vir verdere ondersoek”, het Mapisa-Nqakula gesê.

Wikus Steyl, die Khosa-familie se regsverteenwoordiger, het daarna in ’n brief aan die staatsadvokaat gevra dat die minister ’n “behoorlike verduideliking” moet gee waarom die hofstukke wat sy in die hooggeregshof in Kaapstad ingedien het, van haar voorlegging aan die komitee verskil.

Die hof het vroeër ’n dringende aansoek van onder andere die Khosa-familie aangehoor en opdrag gegee dat die veiligheidsmagte riglyne vir lede se optrede in die ramptoestand moet opstel.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula
Nosiviwe Mapisa-Nqakula Foto: Theana Breugem

Die hof het Mapisa-Nqakula en Bheki Cele, minister van polisie, ook gekap oor hul hantering van die saak.

Die weermag is beveel om sy interne ondersoek gou af te handel en die verslag by die hof in te dien.

Daarin sê Mapisa-Nqakula dat die ondersoek inderdaad afgehandel is en dat die verslag voor die hof die finale weergawe is, sê Steyl.

Hy skryf ook in die brief aan die staatsadvokaat die minister het 11 dae gehad om die raad van ondersoek se verslag te bestudeer voordat dit by die hof ingedien is.

Die departement van verdediging het gister gesê Mapisa-Nqakula “se begrip van die feite het geblyk verkeerd te wees” omdat die weermag nie die ondersoek gaan heropen nie.

“Die minister is jammer vir enige verwarring wat veroorsaak kon gewees het deur haar woorde voor die staande komitee en die verslagdoening oor haar woorde,” lui die verklaring.

Die minister het die militêre ombudsman opdrag gegee om die Khosa-saak verder te bekyk. Die ombudsman moet sy ondersoek binne agt weke afhandel, lui die verklaring.

Toe die verslag van die weermag se raad van ondersoek aanvanklik aan die lig gekom het, het Mapisa-Nqakula by navraag gesê dit is onvolledig en dat “alle prosesse nog nie uitgeput is oor die saak nie”. – News24

Meer oor:  Collins Khosa  |  Nosiviwe Mapisa-Nqakula  |  Ondersoek  |  Aanranding  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.