Die N1 tussen Touwsrivier en De Doorns in die Wes-Kaap is Dinsdagoggend naby die Montagu-afdraai gesluit ná 'n ongeluk waarin die bestuurder van 'n bakkie wat uitgebrand het, gesterf het.
Volgens Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, was die bakkie en 'n bus in 'n trompop botsing betrokke.
"Daar word van 'n stop-en-ry-stelsel gebruik gemaak omdat een van die bane op die N1 gesluit is."
Africa sê die ongeluk het reeds vroegmôre gebeur en verkeersbeamptes sal sorg dat die pad so vinnig as moontlik oopgestel word.
"Die bakkie het uitgebrand en die bestuurder het in die ongeluk gesterf."
Die private ambulansdiens, ER24, het egter gesê tien mense in die bus is beseer.
"Hulle is op die toneel behandel en na 'n hospitaal in Worcester geneem," het Russel Meiring, ER24-woordvoerder, gesê.
Africa het 'n beroep op motoriste gedoen om versigtig te bestuur.

Die bakkie wat teen die bus gebots het, het uitgebrand.

Die bus en bakkie het reg van voor gebots.