Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Vervelige 7de Laan het my laat dut’

Die akteur David Rees sê dit pas hom perfek om 7de Laan te verlaat. Hy het soms tydens tonele aan die slaap geraak omdat hy “verveeld” was.

David Rees sê dit was lekker om die rol van Chris Welman in 7de Laan (SABC 2) te vertolk, maar nou wil hy eers op ander geleenthede fokus. Foto: Elizabeth Sejake

Die SABC2-sepie het die afgelope week aangekondig dat sy paadjie met dié van Rees (50) skei. Sy hardkoppige TV-karakter Chris Welman sal nog tot Oktober op die kassie wees, maar Rees sal net tot einde Julie tonele verfilm. 7de Laan wou nie kommentaar lewer oor die redes vir Rees se vertrek nie.

Hy ontken egter dat hy uitgeskop is.

“Ek is nie gefire nie. Ek is net uit die storielyn geskryf,” het hy die afgelope week aan Rapport gesê. “Kyk, ek is ’n moeilikheidmaker en gaan altyd teen die grein en hou nie daarvan om alles te doen volgens die reëls en regulasies van hoe ’n mens dit ‘behoort’ te doen nie. Ek vat kanse en dit is nie altyd welkom nie.

“Maar ek is nie dié keer gefire soos destyds by (die M-Net-sepie) Egoli toe ek die rol van Niek Naudé vertolk het en moeilikheid gemaak het nie,” sê hy terwyl hy ’n sluk van sy Black Label vat.

“Ek is nou baie meer verantwoordelik en gedissiplineerd as toe. Dit was net ’n voorreg om vir net meer as twee jaar die rol van Chris te kon vertolk. Ek wou eintlik van die begin af nie ’n voltydse kontrak gehad het nie. Daar is baie ander goed wat ek ook wil aanpak.”

Ek is nie dié keer gefire soos destyds by 'Egoli' toe ek moeilikheid gemaak het nie.

Volgens hom was een van die grootste uitdagings by 7de Laan juis die toewyding en lang ure wat dit verg.

“Ek het soms in tonele aan die slaap geraak, bloot net omdat ek verveeld was. Ek was nog nooit net ’n akteur nie. Ek het nog altyd ander goed ook gedoen. Ek kan nie verklap hoe Chris gaan groet nie, maar daar wag ’n lekker storielyn en hy gaan beslis weer kom gesig wys.”

Rees sê hy het benoud begin voel in dié rol. “Chris het my soms doodgemaak. Ek moes gaan grawe in rou emosies wat seer maak. Chris het baie wroeginge gehad, en enige ou wat hou van die reuk van diesel en buskruit weet dis makliker om net aan te gaan as om jou emosies oop te maak.

“Ek moes dit doen vir die rol.

“Veral die tonele tussen hom en sy dogters wat soms baie emosioneel was, het my laat dink aan my kind (14), wat saam met haar ma in Namibië bly. Sy het so vinnig grootgeword en ek kan haar nie altyd beskerm nie.”

Rees sê hy het al ander toekomsplanne begin maak terwyl hy in die sepie was.

Hy gaan vir ’n maatskappy werk wat blokketting-tegnologie gebruik om finansiering vir projekte en organisasies te doen.

“Ek sien uit daarna. Dis ’n goeie geleentheid en sulke goed is belangrik, want ek is nou ’n provider. Toe ek jonk was, het ek gevoel soos ’n slagskaap as ek gedink het aan verantwoordelikhede soos om ’n inkomste te verdien.

“Maar nou is ek reg daarvoor.

“Ek is ’n pa en gaan binnekort trou en hoef nie meer bang te wees dat ek alleen gaan oud word nie. Ek het iemand gekry wat perfek saam met my werk,” vertel hy opgewonde oor sy verloofde, Lina Pentz (39).

Pentz is ’n rekeningkundige wat op 21 Desember, haar 40ste verjaardag, met Rees gaan trou. Sy het self twee dogters.

“Ons het soveel om na uit te sien. As ek haar sien, sien ek die teenoorgestelde van fear: faith. Ek is nou ’n ‘ons’ – en die nuwe geleenthede wat wag, maak my baie gelukkig. Daar is ’n gesegde: ‘Happiness is wanting what you have, not having what you want.’

“Ek verstaan dit nou.”

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Sepie  |  Akteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.