Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vervoertwis in Bloem op spits gedryf

Openbare vervoer in en vanuit Bloemfontein na omliggende gebiede soos Botshabelo en Thaba Nchu sal soos gewoon voortgaan, met geen ontwrigting wat voortaan moet plaasvind nie.

Dit was die uitkoms van ’n vergadering Woensdagmiddag tussen onder meer die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer, Interstate Bus Lines (IBL) en die Greater Bloemfontein Taxi Association in die kantoor van Sam Mashinini, LUR vir dié departement.

Dit volg op ’n twis tussen taxi- en busoperateurs wat Dinsdag openbare vervoer tot stilstand gedwing het. Die taxi-operateurs voer aan daar is te veel IBL-busse op hul roetes en beweer die busse het nie die nodige permitte nie.

Talle pendelaars was tot Dinsdagaand in die stad gestrand.

Volgens Vuyo Ondala, IBL-woordvoerder, is een van die gevolgtrekkings uit die vergadering dat IBL en die taxi-verenigings se dienste soos normaal, sonder onderbrekings, moet voortgaan.

Die departement sal die griewe van sowel die taxi-verenigings as IBL dringend ondersoek en ’n verslag sal teen Vrydag aan Mashinini oorhandig word. ’n Opvolgvergadering sal ook Vrydag gehou word.

“Alle belanghebbendes het saamgestem dat die onmiddellike fokus die lewering van ’n veilige en betroubare openbare-vervoerdiens tot voordeel van die inwoners van Mangaung moet wees.”

’n Vergadering is Woensdagmiddag tussen onder andere die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer, Interstate Bus Lines (IBL) en die Greater Bloemfontein Taxi Association in Sam Mashinini (middel), LUR vir dié departement, se kantoor gehou. Foto: Facebook/Department of Police Roads and Transport

Minstens 42 mense is van Dinsdag tot Woensdagmiddag te midde van die spanning vir openbare geweld in hegtenis geneem, het lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, bevestig.

Die polisie het Dinsdag rubberkoeëls gebruik om die situasie in bedwang te bring toe geweld by ’n taxi-staanplek uitgebreek het.

“Taxi-operateurs het saamgedrom en ’n IBL-bus aangeval. Die polisie moes hulle toe uiteenjaag,” het Covane oor die geweld by die taxi-staanplek gesê.

Woensdag was die polisie se eenheid vir openbare orde, sigbare polisiëring, die provinsiale verkeersafdeling en die Mangaung-metropolisie ontplooi om stabiliteit te verseker.

Ondala het Woensdagmiddag gesê hul diens is deur die dag sonder onderbrekings verskaf.

Hy sê ’n aantal van hulle busse is beskadig toe dit Dinsdag met klippe bestook is en hy weet van twee passasiers wat beseer is toe hulle in een van dié busse was.

Coach Mpotane, woordvoerder van die Greater Bloemfontein Taxi Association, sê misdadigers het Dinsdag die situasie uitgebuit en klippe na taxi’s gegooi wat steeds passasiers vervoer het. Ander voertuie is ook bestook.

Volgens Mpotane is van die mense wat in hegtenis geneem is, deur die polisie uitgelok deurdat die polisie op mense geskiet het wat bloot rondgestaan het.

Die taxi-vereniging is tevrede dat hul probleme nou aandag geniet en hul dienste is reeds hervat.

“Daar sal nie weer sulke probleme wees nie, want ons het gesien dat ons mense swaarkry. Ons sal nooit weer ons dienste opskort nie.”

Hillary Mophethe, woordvoerder van die vervoerdepartement, het ontken dat IBL busse sonder die nodige permitte gebruik.

Die IBL tree kragtens ’n staatskontrak op met streng voorwaardes en sal gestraf word as die busse nie die nodige permitte het nie.

Sy het ook bewerings ontken dat die departement nie busse se padwaardigheid so gereeld nagaan soos dié van taxi’s nie.

Meer oor:  Botshabelo  |  Thaba Nchu  |  Bloemfontein  |  Vergadering  |  Openbare Vervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.