Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vervolg Ashley Kriel se moordenaars, vra sy familie

Die familie van Ashley Kriel, die vermoorde anti-apartheidsaktivis van Bonteheuwel, asook die ANC in die Wes-Kaap, vra dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) die ondersoek na Kriel se moord “sonder verdere vertragings” heropen.

Kriel was 20 toe hy op 9 Julie 1987 doodgeskiet is nadat die apartheidspolisie hom by ’n huis in Hazendal, Athlone, opgespoor het. Die familie het Donderdag sy dood 33 jaar gelede herdenk.

Kriel se suster Michel Assure (56) sê hoewel hulle sy nalatenskap en lewe jaarliks vier, wag hulle nou al drie dekades vir antwoorde oor sy dood.

“Ons wil weet wat presies gebeur het, 33 jaar gelede. Elke jaar het ons gemengde gevoelens oor Ashley se dood en hoop ons dat die pyn sal weggaan, maar dit raak net nie beter nie.”

Assure sê ná al die jare sukkel hulle steeds om oor Kriel se moord te kom.

“Ons het ons ouers, Ivy en Melvyn Kriel, op ’n jong ouderdom verloor. Ashley se dood het ons baie swaar getref. Al die jare wat Ashley van ons weggeneem is, loop die skuldiges wat hom vermoor het vry rond. Dit maak ons verskriklik hartseer.”

Ashley Kriel se susters, Michel Assure (voor) en Melanie Adam, met ’n plakkaat van hul broer. Foto: Verskaf

Sy sê die herdenking van sy dood is vir hulle bittersoet.

“Ja, ons vier die nalatenskap van die lewe wat hy gelei het, maar ons is hartseer dat hy nie saam met ons kon oud word nie. Ons is ook hartseer vir ander families van aktiviste, soos die Gugulethu-sewe, die Cradock-vier en verskeie ander wat wreed deur die veiligheidsmagte vermoor is en steeds nie antwoorde het nie.”

Sy sê Julie is altyd ’n moeilike maand.

“Ons treur oor ons broer in hierdie tyd. Ons wil net dié hoofstuk van ons lewe afsluit.”

Assure sê lede van die Valke het hulle drie jaar gelede besoek en ingelig dat hulle ondersoek instel na Kriel se dood en dat vervolgings sou volg.

“Hulle het ons egter net haas gemaak (’n wortel voor die neus gehou) met die vervolgingstorie, wat op die ou einde maar ook doodgeloop het. Hoekom moet ons as families soebat vir geregtigheid?”

Sy sê die familie kan nie nog ’n jaar met leë beloftes deurgaan nie en dring daarop aan dat Kriel se moordenaars vervolg word.

“Vandag voel ek emosioneel en probeer sterk wees, maar ná al die jare is dit steeds baie swaar.”

Ook die ANC bring in ’n verklaring hulde aan dié 20-jarige lid van Umkhonto we Sizwe, en sê hulle is steeds nie oortuig die weergawe oor sy dood wat aan die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) voorgehou is, is die waarheid nie.

Lerumo Kalako, tussentydse sameroeper van die ANC in die Wes-Kaap, sê al het die WVK in 1999 amnestie aan die veiligheidspolisiebeampte Jeffrey Benzien gegee vir sy rol in die moord, is dit nie genoeg nie.

Die ANC sê die omstandighede rondom Kriel se dood is ná al dié jare steeds onduidelik.

Volgens Benzien, wat bekend was vir sy marteltegnieke, is Kriel in ’n geskarrel per ongeluk geskiet.

Die ANC vra in die verklaring dat die moord op Kriel “sonder enige verdere vertragings” ondersoek moet word.

Die ANC se Athlone- parlementêre kantoor en die Ashley Kriel-stigting hou Sondag om 11:00 ’n aanlyn bespreking oor Kriel se bydrae tot die stryd teen apartheid, asook die bydraes wat deur die jeug van die 1980’s gemaak is.

Meer oor:  Moordenaars  |  Familie  |  Vervolg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.