Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Verwoede swerm bye ontsien nie mens of dier in Mnandi

Dit was Dinsdagoggend ’n somber toneel toe 17 van die perde wat ’n frats-aanslag deur hordes bye oorleef het, asof katvoet uit hul stalle by die Silver Oaks Stable Yard na hul kampe stap.

Saagsels en sand is reeds vroeër gestrooi op die plekke waar eers Jet-Blaster Maandag in sy spore neergeslaan het toe duisende bye hom gepak het, en Mungo-Jerry, sy “perde-pêl” wat in dieselfde kamp was, kort daarna van kant gemaak moes word.

Die twee was immers nooit ver van mekaar af nie.

Die gebreekte geëlektrifiseerde bande waardeur die perde asof berserker gebars het om van die bye weg te kom, was ook herstel.

Jet-Blaster en Mungo-Jerry se karkasse word verwyder nadat hulle deur bye doodgesteek is. Foto: Deaan Vivier

Van die swart wolk bye, wat Maandag etlike meters wyd gestrek het, was daar geen teken nie.

Daarvan het Silver Oaks se eienaar, Corryn Struwig, en personeel seker gemaak voordat hulle die perde laat uitkom het.

“Die realiteit het ons vandag eers getref. Ons harte is stukkend.

“ . . . vir ’n dier om deur so iets te moet gaan . . . Ek bly net hoop die lyding was kort. Dit gaan ons ’n ruk neem om hieroor te kom,” erken sy emosioneel.

Twee perde is dood, en nog 18 perde, vier honde en ’n voël, en talle mense is Maandag gesteek toe ’n reuseswerm bye op twee hoewes in Mnandi toegesak het. Foto: Deaan Vivier

Die ander perde is almal Dinsdagoggend weer deurgekyk, want die veearts het gewaarsku dat sommige dalk ’n vertraagde reaksie op die bye-gif kan hê.

“Hulle was maar senuagtig toe hulle na die kampe stap. Perde is baie sensitiewe diere, so ons het nog niemand in Jet-Blaster en Mungo-Jerry se kamp gesit nie,” sê Struwig.

Die swerm bye het Maandag asof blindelings mens, perd, hond, en selfs ’n wilde baba-voëltjie, geteiken nadat hulle vermoedelik deur ’n grassnyer gesteur is.

Die aanslag het op Loraine van Rooijen se kleinhoewe in Mnandi, suidwes van Centurion, begin.

Terwyl Elias Mpeleh gras gesny het, het hy “iets swarts soos klein vlieë” op die grasperk gesien. Die volgende oomblik is hy so getakel dat hy in sy vlugtog sy hoed en baadjie moes uitpluk toe die bye tot onder sy klere ingevlieg het.

Corryn Struwig, eienaar van die Silver Oaks Stable Yard, sluk hard aan die trane terwyl sy kyk of al die ander perde van die bye-aanval herstel het. Foto: Deaan Vivier

Van Rooijen het die deur oopgemaak toe hy roep, waarop sy deur die zoemende wolk begroet is.

Sy is self verskeie kere gesteek toe sy in die byemassa moes instorm om haar honde, wat die volgende teikens was, te red.

Haar twee perde en bejaarde ponie was nie regstreeks in die bye se aanvalsroete nie, en net een is ’n paar keer gesteek.

Haar hond wat die ergste deurgeloop het, het Dinsdagoggend nog ’n bekvol heel dooie bye uitgebraak, wat sy vroeër gesluk het toe sy uit selfverdediging na hulle gehap het.

Die swerm het toe hul visier op die 19 perde op die buurgrond gestel.

Terwyl sy nog honde gered het het Van Rooijen gesien hoe Jet-Blaster met sy pote kap, ook na sy gesig, en vir Struwig gebel.

Die volgende oomblik het die perd net neergeslaan.

Terwyl die res van die perde “asof besete” geraak het, wou sy soontoe hardloop om Struwig-hulle te gaan help.

Damian Struwig en Megan van der Westhuizen spoel een van die perde se pote af nadat verskeie van hulle deur die heining gebreek het om die bye te ontvlug. Foto: Deaan Vivier

“Ek het gedink as ons net die perd kan opkry, kan ons hom wegkry van die bye af, maar Howard (Struwig se man) het gekeer en geskreeu dis te laat.

“Ek dink hy het besef ons, die mense, word net so woes gesteek,” het Van Rooijen vertel.

Abi Taljaard, wat by die stalle werk, het ’n halter vir Mungo-Jerry probeer aansit om hom weg te lei, maar sy gesig was dik en swart toegepak van die bye.

Sy het hom toe probeer jaag om hom onder die swerm uit te kry, maar die dier kon nie meer beweeg nie. Hy het net gestaan en wieg.

Jayde, Struwig se dogter, het haar baadjiekappie oor haar kop getrek en saam met die werkers, waarvan talle teen dié tyd voos gesteek was, perde tussen die bye uitgehaal.

Intussen het drs. Alison Dallas en Rissa Parker van die Glen Austin Equine Clinic in ’n “rekordtyd” opgedaag. Een het sommer so in die ry beskermende klere aangetrek.

Jet-Blaster was reeds dood. Hulle het vir Mungo-Jerry probeer red, maar moes op die ou einde die genadige uitweg kies.

Daarna is al die ander perde – en mense – behandel.

Later Maandag, voordat die karkasse verwyder is, het Megan van der Westhuizen, wat haar perd by Silver Oaks op stal hou, en Struwig se seun Damian, ’n stukkie van elkeen se sterthare afgeknip as ’n laaste aandenking vir hul eienaars.

“Die twee perde was buddies. Miskien is dit beter dat hulle saamgegaan het,” het Van der Westhuizen sag gesê.

Abi Taljaard, wat tot bo-op haar kop gesteek is toe sy die perde probeer red het, maak seker Magic-Sword is veilig op stal. Foto: Deaan Vivier
’n Verwese Lexi, Loraine van Rooijen se hond wat die ergste deur die bye bygedam is, word vir angels deurgesoek. Sy het Dinsdagoggend nog ’n bekvol bye uitgebraak. Foto: Hanti Otto
Elias Mpele en Loraine van Rooijen deursoek een van haar perde vir nog angels, nadat hulle elkeen self ’n sterk dosis antihistamien ingeneem het. Foto: Hanti Otto
Kenners sê

Hannes Grobler van Bee-A-Live wat in die verwydering en hervestiging van bye spesialiseer, sê bye maak soms nes in die grond en hy vermoed die grassnyer het hierdie swerm gesteur.

“Die bye het die werker getakel, wat gehardloop het. Toe volg hulle hom en vind die honde. As bye so steek, skei hulle feromone af wat ander bye aanhits om te steek. Daarby skei perde salpeter af, ’n reuk wat bye haat.

“Die perde was in kampe, en hoe meer hulle rondgehardloop het om die bye te ontvlug, hoe meer salpeter het hulle afgeskei. Die bye het dus in die mengsel van hul eie hormone en die salpeter in ’n frenzie gegaan,” verduidelik hy.

Grobler sê dit is slegs die tweede keer in vyf jaar dat hy hoor van perde wat so aangeval is.

Dr. Alison Dallas, veearts, sê perde is hoogs allergies vir bye en hul gestel gaan so in skok van die gif dat die dier ’n hartaanval kry.

“Om die een of ander rede mik bye eerste vir donker kleure (Jet-Blaster was tussen swart en donkerbruin). Hulle teiken dan ook die dele met die minste hare, soos die ore, neus, bek en onder die stert.

“Die eerste perd (Jet-Blaster) is seker meer as 1 000 keer gesteek.”

In Dallas se sowat 30 jaar as veearts, was dit die eerste keer dat sy so iets beleef. Haar vennoot weet ook van net twee soorgelyke gevalle waar bye perde so aangeval het, waarvan een in Zimbabwe was.


Meer oor:  Bysteek  |  Hond  |  Bye  |  Perde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.