Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Verwoestende brande in Suid-Kaap eis nog 'n mens

Minstens vier mense is Woensdag dood nadat brande grootskaalse verwoesting in die Suid-Kaap gesaai het.

Drie mense is dood in ’n brand naby Rheenendal in Knysna. ’n Vierde persoon in die gebied het gesterf as gevolg van ’n hartaanval. Dit is vermoedelik as gevolg van die spanning oor die brande. Hul name is nog nie bekend gemaak nie.

Verskeie brande het sedert vroegoggend in die Suid-Kaap en Klein-Karoo gewoed en is aangehelp deur stormsterkwinde. Groot skade is aangerig. Die N2 tussen Plettenbergbaai en Sedgefield bly onbepaald gesluit. Dit het tot gevolg gehad dat mense inderhaas alternatiewe akkommodasie moes vind.

Gerhard Otto, hoof van Eden-rampbestuur, sê die drie oorledenes in die Rheenendal gebied is ’n plaaswerker, sy vrou en hul seun.

Ek en my vrou moes ons honde en katte gryp, in die motor spring en vlug. Dit het vuur gereën. Dit het soos die oordeelsdag gelyk.
Anton du Plessis, boer in die Elandskraal-gebied

Volgens Otto is ’n tydelike beheersentrum by die Knysna-brandweerdiens ingerig.

Clinton Manual, hoof van die Knysna-brandweer, het reeds vir bykomde hulp en lugbystand gevra.

Luidens ’n verklaring van Eden-rampbestuur wat vroeg Woensdagaand uitgereik is, is nog brandsbestrydingspanne uit ander dele van Wes-Kaap na Knysna onderweg.

Onder hulle is ’n span van die Overberg. Die Kaapstadse munisipaliteit sal ook Donderdag ’n span stuur.

Die weermag is op gereedheidsgrondslag geplaas om te help indien dit nodig sou wees.

Telefoonverbindings na die Knysna-munisipaliteit is onderbreek as gevolg van die brande en in sommige dele is daar kragonderbrekings.

Inwoners van Belvedere is reeds laat middag gevra om hul woonplekke te ontruim.

Bejaardes is na die Mont Old-tehuis vir bejaardes en die Chris Hani-gemeenskapsaal in Dam se Bos geneem.

Anton du Plessis, boer in die Elandskraal-gebied, het gesê hy het alles verloor. Hy en sy vrou het Woensdagaand by vriende en familie by Glentana tuisgegaan.

“Ek en my vrou moes ons honde en katte gryp, in die motor spring en vlug. Dit het vuur gereën. Dit het soos die oordeelsdag gelyk.”

Volgens Du Plessis het mense hul lewens verloor weens gebrekkige optrede. ’n Natuurbos het al die afgelope vyf weke in die gebied gesmeul. “Ek het voorheen die brandweer laat kom. Hulle het gesê die bos is te dig. Hulle kan nie daar inkom nie. Ek het minstens vyf keer die brandweer daarvan in kennis gestel. Woensdagoggend was daar die massiewe winde en dit het die brand aangeblaas.”

Jolene Eksteen van ’n plaas in die Elandskraal-gebied sowat 15 km van Sedgefield, sê al die weiding en bome op die plaas het afgebrand. “Die brand het naby gekom, maar gelukkig het die huis nie gebrand nie. Ons bure se huis het wel afgebrand.”

Volgens haar is hulle omstreeks 06:00 Woensdagoggend deur een van die werkers gebel. Hy het gewaarsku oor ’n brand daar naby.

“Ek en my man het gaan kyk hoe ernstig dit is.” Kort daarna het sy ’n oproep ontvang dat hulle die huis moet ontruim en hulle is toe na ’n blyplek in Sedgefield.

Nog ’n inwoner van Elandskraal en ’n restoureerder van ou motors, Gerry van Kerkhof, moes sy huis op sy plaas inderhaas ontruim. “Ek het my 96-jarige moeder, die katte en honde ingelaai en gery,” vertel hy.

Minstens vyf van sy geliefde motors het in die slag gebly, asook besittings en werkwinkels. “Ek het nie self gesien hoe my huis brand nie,” voeg hy by. “Ons het gery om weg te kom. Nou is die rook so dig dat ek nie die skade kan sien nie.”

Brande in die Knysna-gebied het ook gewoed by die Kruisfontein-plantasie langs die N2 by Nekkies, asook op die westelike flank van die Knysna-koppe en langs die N2 tussen Sedgefield en Knysna.

Meer oor:  Rheenendal  |  Knysna  |  Knysna-Brande  |  Sterftes  |  Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.