Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vet salarisse vreet SAUK se geld op
Luyanda Maome, ’n omroeper by Channel Africa betoog buit die SAUK se hoofkantoor in Auckland Park, Johannesburg. SAUK-werknemers het Vrydag saam met vakbonde betoog teen die SAUK-raad se besluit om sowat 400 werkers af te lê. Foto: Johan Eybers

Die krisis by die openbare uitsaaier stuur af op ’n openlike botsing tussen die SAUK-raad en die ANC, met Luthuli-huis wat hulle openlik by die vakbonde skaar in hul geveg teen afleggings by die korporasie.

Dit volg nadat die party se sekretaris-generaal, Ace Magashule, die SAUK-raad Woensdag beskryf het as deel van ’n “ou garde” wat die “winste van die revolusie” ongedaan wil maak. Hy het ook SAUK-werkers aangemoedig om in opstand te kom teen “hulle wat arrogant is – of hulle nou in die bestuur is of in die raad. Jul stryd duur voort en ons sal julle ondersteun.”

’n Dag later was Pule Mabe, die ANC se woordvoerder, self teenwoordig by ’n betoging voor die SAUK se hoofkantoor in Auckland Park. Hy sê die ANC is heeltemal gekant teen afleggings by die korporasie.

Intussen dreig Aubrey Tshabalala, hoofsekretaris van die Communications Workers Union (CWU), met ’n grootskaalse staking om druk op die SAUK-bestuur te plaas om die art. 189-afleggingsproses te stop.

Die SAUK-raad het Donderdag bekend gemaak dat hy die proses om bykans 400 van sy 3 000 werknemers af te lê, vir ’n week lank staak in ’n poging om na “ander opsies” te kyk.

Dié besluit volg op ’n vergadering Woensdagaand tussen die SAUK-raad en die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie oor die afleggingsproses. Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en tegnologie, en parlementslede het in die vergadering gevra die raad moet eers alle ander opsies oorweeg voordat hy poste besnoei.

Jasmina Patel, ’n SAUK-raadslid, het egter vir parlementslede gesê die SAUK sal in sakeredding moet gaan as hulle nie voortgaan met die afleggingsproses nie.

Magashule het Woensdag in ’n onderhoud met twee SAUK-joernaliste uitgevaar teen raadslede wat die afleggings as finansieel noodsaaklik beskou. Hy sê die meeste van die raadslede is deur die ANC ontplooi en hy het hulle herhaaldelik as “kapers” en “arrogant” beskryf.

Werkers van die SAUK betoog Donderdag buite die SAUK se streekkantoor in Kaapstad. Foto: Edrea du Toit

Op ’n vraag van die joernalis Ntebo Mokobo oor of die SAUK-raad se “vervaldatum” verstryk het en of die raad nie sy tasse behoort te pak nie, het Magashule gesê: “Dit is waarom ons moet skoonmaak. Die ANC moet wakker word en begin om werklik die land te bestuur. Die minister moet met hierdie mense praat en as hulle nie luister nie, moet hulle die deur gewys word.”

Die SAUK-raad het reeds in 2018 gesê die uitsaaier is tegnies bankrot en dat hulle 981 permanente werknemers en 1 200 vryskutwerkers sal moet aflê. Die raad het destyds beswaar aangeteken toe Maga­shule gesê het die ANC sal nie enige afleggingsproses toelaat nie. Die raad het toe gesê dit is ’n oortreding om in te meng by sy besluite.

Die korporasie het die besnoeiingsproses in Januarie verlede jaar laat vaar te midde van druk van die regering. Die staat het toe laat verlede jaar ’n reddingsboei van R3,2 miljard aan die SAUK toegestaan om hom kop bo water te help hou.

Die SAUK het Dinsdag sy jaarverslag vir die boekjaar 2019-’20 bekend gemaak. Daarvolgens beloop skuld in dié boekjaar R511 miljoen terwyl inkomste uit advertensies en lisensies met 12% afgeneem het van R6,4 miljard tot R5,7 miljard.

Bongumusa Makhathini, voorsitter van die SAUK-raad, sê die gevolg hiervan is dat hulle nie vars programinhoud aankoop en sodoende gehore teruglok na hul platforms nie.

Volgens die jongste jaarverslag beslaan salarisse 45% van die uitsaaier se uitgawes en hy bestee slegs 28% van sy uitgawes aan programinhoud.

SAUK-hoofde en werkers het verlede jaar yslike salarisse verdien.

Die feit dat die afleggingsbriewe nie teruggetrek is nie, beteken dat werknemers erger benadeel word. Die horlosie hou aan met tik.

Madoda Mxakwe, uitvoerende hoof, se jaarlikse salarispakket beloop R5,5 miljoen en Yolande van Biljon, finansiële hoof, verdien R3,2 miljoen. Senior bestuurders se salarisse wissel tussen R2 miljoen en R3 miljoen.

Die SAUK-werknemers se gemiddelde salarispakket is R791 000 – nagenoeg R66 000 per maand. Dit is heelwat hoër as die gemiddelde salarispakkette in die private sektor. Boonop geniet werknemers ook ruim byvoordele. Hulle kry sewe weke (35 dae) betaalde verlof plus 30 dae siekteverlof per jaar.

Die SAUK wil nou die jaarlikse verlof tot 28 dae beperk, die voordeel om jou verlofdae te verkoop stopsit en siekteverlof beperk tot 36 dae oor ’n tydperk van drie jaar. Dié planne kan net deurgevoer word met goedkeuring van die vakbonde, wat vasskop.

Hannes du Buisson, uitvoerende hoof van die Broadcasting, Electronic, Media & Allied Workers Union (Bemawu), sê die afgelope week se opskorting van die art. 189-afleggingsproses beteken niks nie.

“Die feit dat die afleggingsbriewe nie teruggetrek is nie, beteken dat werknemers erger benadeel word. Die horlosie hou aan met tik.”

Mmoni Seapolelo, waarnemende SAUK-woordvoerder, sê die posbesnoeiings raak alle SAUK-kantore oor die land, maar dit sal nie die kwaliteit van sy dienste in gevaar stel nie.


Meer oor:  Vakbonde  |  Anc  |  Afleggingsbriewe  |  Sauk-Raad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.