Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Veteraan-fotograaf van Kaap sterf in slaap
George Hallett

Die befaamde veteraanfotograaf George Hallett (78) is Woensdag ná ’n lang siekte oorlede.

Hallett, wat in 1942 in Kaapstad gebore is en sy loopbaan in Distrik Ses as straatfotograaf begin het, is veral bekend vir sy foto’s uit die apartheidsera.

Sy dogter Maymoena Hallett het Woensdagaand op Facebook gesê haar pa het rustig in sy slaap gesterf.

“Ons sal hom altyd onthou vir sy lig, sy lag, sy uitbundige persoonlikheid, sy buitensporige grappies en as die lewe en siel van talle partytjies.

“Niemand kan sy kunstenaarskap betwyfel om skoonheid en vreugde vas te vang in alles wat hy deur sy oë en sy lens gesien het nie, en ook nie sy bydrae tot fotografie, veral Suid-Afrikaanse fotografie nie,” skryf sy.

Luidens vroeëre berigte het Hallett veral indruk gemaak met sy foto’s van Nelson Mandela tydens die verkiesing van 1994 en is hy in 1997 as die amptelike fotograaf tydens die Waarheids-en-Versoeningskommissie se verhore aangestel.

Niemand kan sy kunstenaarskap betwyfel om skoonheid en vreugde vas te vang in alles wat hy deur sy oë en sy lens gesien het nie, en ook nie sy bydrae tot fotografie, veral Suid-Afrikaanse fotografie nie.

By ’n aanlyn geldinsamelingsfonds wat Maymoena vir haar pa gestig het, skryf sy hy het oor die afgelope vyf jaar toenemend sieker geraak.

Die vryskut-fotojoernalis James Oatway het Hallett nie persoonlik geken nie, maar wel sy werk.

Oatway sê Hallett se werk is baie poëties – “amper visuele poësie”.

“Sy werk is baie persoonlik en intiem. Jy kan sien hy het altyd baie naby aan sy onderwerpe, wat hom natuurlik vertrou het, gekom.”

En dit is wat dokumentêre fotografie maak, sê Oatway: om jou onderwerpe op hul gemak te laat voel en ’n blik te kry op dit wat ander mense nie gewoonlik sommer sou sien nie.

Hy sê Hallett het besonder goed gevaar, veral in ’n era waar dit moeiliker was vir mense wat nie wit is nie.

“Maar sy werk het bo almal anders s’n uitgestaan.”

Die fotojoernalis John Hogg, wat oor ’n tydperk van 30 jaar vir verskeie mediagroepe gewerk het, sê Hallett was een van die ouer fotograwe na wie baie mense en fotograwe opgesien het.

“Hy was ’n belangrike figuur – soiaal én fotografies.”

Hogg sê die enkele kere wat hy met Hallett te doen gekry het, het hy baie warm en innemend voorgekom.

Meer oor:  Fotograaf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.