Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Veteraan-joernalis Jan Taljaard dood

Die veteraanjoernalis en rubriekskrywer Jan Taljaard (61) is Sondag in die Panorama-hospitaal in Kaapstad oorlede nadat akute leukemie einde Mei vanjaar by hom gediagnoseer is.

Die veteraanjoernalis Jan Taljaard.

Taljaard het sy joernalistieke loopbaan by Beeld begin, waar hy in die jare tagtig onder meer die Helderberg-vliegramp, Namibië se onafhanklikwording en die Gert van Rooyen-ondersoek gedek het.

Volgens die skrywer Dana Snyman, ’n oudkollega van Taljaard by Beeld, was Taljaard sy held toe hy in die joernalistiek begin het.

“Ek het ontsettend baie by hom geleer. Hy was ’n baken. En ’n dekselse goeie skrywer; hy het die wonderlikste goed geskryf,” het Snyman gesê.

Ook Murray La Vita, bekende profielskrywer en oudkollega van Taljaard, het hom as ’n mentor beskryf.

“Hy was een van die heel beste – indien nie dié beste nie – Suid-Afrikaanse joernalis wat ek geken het,” het La Vita gesê.

“Hy het kontakte gehad. Hy was slim. Hy het gelees. En bowenal, hy kon skryf – boeiend, snaaks, oorspronklik en ménslik. Sentimentaliteit, clichés en selfgesentreerdheid sou jy nooit in sy werk aantref nie.

“Jan was lief vir helikopters, Led Zeppelin, die prosa van die Afrikaanse Ou Testament, motorfietse, Gargantua en Pantagruel (waarin Rabelais die spot dryf met dwase en bekrompe mense) en Deneys Reitz. Ons het mekaar ‘ouboet’ genoem.”

Taljaard was later ook joernalis by die Weekly Mail, Rapport en Insig, en redakteur van die Suid-Kaapse uitgawe van Die Burger in die vroeë 2000’s. Van sy rubrieke het later in onder meer Die Burger, Weg, WegSleep en WegRy verskyn.

Meer onlangs was hy die skrywer van die rubriek Lunsriem en die stem van die politieke rubriek Pollux in Rapport.

Volgens sy vrou, Nelia Richter, was Taljaard die “kampioen van die verdruktes” en altyd in voeling met sy lesersmark.

“Hy was ongelooflik belese en kon met kundigheid oor onderwerpe skryf wat strek van lugvaart en evolusie tot sensitiewe misdaadstories en musiek,” het sy gesê.

In die jare negentig het Taljaard en sy eerste vrou, Helene Cilliers, die nuusplatform Pretoria Online bedryf, een van die eerste ondernemings van sy soort in Suid-Afrika.

Taljaard was later ook lid van die kernspan wat gehelp het met die totstandkoming van eBeeld, deel van die groep wat ’n internetstrategie vir Naspers ontwikkel het, en hy was betrokke by die totstandkoming van News24.

Taljaard word oorleef deur sy vrou, sy ma, Marion, twee susters, Marikie en Tina, twee seuns, Tomas (30) en Deneys (28) uit sy eerste huwelik, 'n stiefseun, Jean-Hendrik (31) en sy dogter, Gretha (10), uit sy tweede huwelik. 

Meer oor:  Jan Taljaard  |  Joernalis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.