Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
VGK besin oor rol 25 jaar ná ontstaan

Die uitdagings wat die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGK) vandag in die gesig staar, kom volgende week onder die loep as deel van die kerk se 25ste bestaansjaarvieringe.

Die VGK se stigtingsmoderatuur. Voor sit wyle dr. Sam Buti en wyle ds. Nic Apollis; agter staan wyle ds. James Buys en ds. Leonardo Appies.

’n Akademiese seminaar word vir dié doel Dinsdag, Erfenisdag, in die Universiteit Stellenbosch se teologie-departement gehou.

“Die VGK ervaar, soos kerke in die algemeen, ’n krisis wat betref ’n ná-apartheidsrol,” het dr. Llewellyn MacMaster, moderator van die streeksinode Kaapland, gister gesê.

“Maar ek dink die gesamentlike profetiese stem van die kerk het stil geword.”

Dit is onder meer ook toe te skryf aan die klemverskuiwings in die media wat tot gevolg het dat die kerk nie noodwendig altyd meer beskou word as “ ’n stem wat gehoor behóórt te word nie”.

“Die VGK bevind haar dus in ’n posisie waar sy gedurigdeur, en veral nou, haar rol moet herdefinieer in terme van die uitdagings wat ons vandag het: die misdaad, xenofobie en geslagsgeweld,” aldus MacMaster.

Binne die VGK self word die impak van apartheid ook nog ervaar, wat byvoorbeeld eenheid, identiteitspolitiek en finansiële volhoubaarheid betref.

MacMaster sê die VGK is ook aan die ontvangkant van ’n wêreldwye tendens “dat die kerk nie meer so ’n sentrale rol in mense se lewe speel soos in die tyd van hul ouers nie”.

Sprekers op die seminaar sluit in proff. Christina Landman, Leepo Modise, Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel en dr. Natie Philander.

Die VGK het in April 1994 tot stand gekom toe die destydse (bruin) NG Sendingkerk en die (swart) Gereformeerde Kerk in Afrika saamgesmelt het.

MacMaster wys daarop dat die twee kerke doelbewus besluit het op “verenigende” as deel van die nuwe naam “omdat dit maar die begin moes wees van die proses om uiteindelik al die kerke binne die sogenaamde NGK-familie een te maak”.

Dit was ook belangrik om die nuwe kerk geografies nie net tot Suid-Afrika te beperk nie en daarom word is dit as die VGK in Suider-Afrika in die lewe geroep.

Dit was ook belangrik om die nuwe kerk geografies nie net tot Suid-Afrika te beperk nie en daarom word is dit as die VGK in Suider-Afrika in die lewe geroep.

’n Spesiale diens word Donderdagaand in URC SA Gestig in Belhar gehou om die 33ste herdenking van die veelbesproke Belhar-belydenis te vier. Hier word veral staatgemaak op die bywoning van leraars en lidmate wat op die sinode teenwoordig was waar die dokument aanvaar is.

Die belydenis, waarin onder meer die “onbybelsheid” van apartheid voorop staan, is oor die jare een van die groot kwelpunte in die strewe om eenheid binne die ganse NGK-familie te bewerkstellig.

Naas dié diens en die akademiese seminaar word ’n galadinee volgende Saterdag in die Kuilsrivier Tegniese Skool gehou. Dit word voorafgegaan deur ’n brigade-kompetisie die oggend in die Groenpunt-stadion.

Die vieringe word aanstaande Sondag met ’n spesiale diens in die Universiteit van Wes-Kaapland se Groot Saal afgesluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.