Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Video skok van oppassers wat hond slaan
bokser
Hector, die bokser in die skokvideo wat op sosiale media versprei word. Foto: Facebook/Mel Coltman

’n Paartjie van Hermanus wat mense se huise en troeteldiere oppas word deur ’n polisieondersoek in die gesig gestaar nadat ’n video wat wys hoe hulle ’n jong bokser slaan en uit die huis gooi op sosiale media versprei is.

Die dierebeskermingsvereniging (DBV) ondersoek ’n saak teen die paartjie nadat dit Maandag op video vasgelê is hoe ’n bokser van sewe maande oud met ’n lat geslaan en by die deur uitgegooi word.

Die voorval het in die sitkamer van Mel Coltman, die hond se eienaar, gebeur en is deur ’n veiligheidskamera afgeneem toe die paartjie die hond opgepas het terwyl hulle vir die langnaweek weg was.

“Die eienaar van die hondjie het eers van die voorval bewus geword toe die kringtelevisieopnames gekyk is,” lui ’n verklaring van die DBV.

“Die eienaar is baie ontsteld en wil geregtigheid hê. Ons is in kontak met die eienaar en sal voortgaan met strafregtelike klagte,” sê Belinda Abraham, woordvoerder van die DBV.

Volgens haar sal ’n klag van dieremishandeling Donderdag by die polisie gelê word.

Die paartjie se name is aan Netwerk24 bekend, maar hulle kan nog nie geïdentifiseer word nie omdat hulle nog nie in die hof verskyn het nie.

Hulle sê in die advertensies van hul dienste dat hulle diere “gelukkig en veilig” hou.

Die kringtelevisiemateriaal is net meer as ’n minuut lank en wys hoe die boerboel, Hector, in die sitkamer op ’n hondebed lê terwyl die oppassers skree en die man die hond herhaaldelik met ’n lat slaan.

Die vrou maak ’n skuifdeur oop waarna die man die hond aan sy rug en nekvelle optel en gewelddadig by die deur uitgooi.

Dit lyk nie of die hond die paartjie byt of enigsins aggressief teenoor hulle is nie.

Hector, die hond wat op die video geslaan en by die huis uitgegooi word. Foto: Facebook/Mel Coltman

Coltman het Woensdag gesê sy wil op regsadvies nie kommentaar lewer nie, maar sal wel later.

Daar kon nie vasgestel word of die hond enige beserings het nie, maar luidens plasings op sosiale media is hy “oukei”.

Coltman het Dinsdag die video op Facebook gedeel en mense gewaarsku om nie van die paartjie se dienste gebruik te maak nie.

“Hierdie een is net ’n kort video, maar dit is nie die enigste wat wys hoe ons arme Hector herhaaldelik geslaan word nie,” het Coltman op Facebook gesê.

Die video het hewige reaksie op sosiale media uitgelok met mense wat die paartjie met die dood dreig. Hulle word mishandelaars noem en mense sê dat hulle dieselfde behandeling verdien as wat hulle uitdeel.

Pogings om die paartjie in die video telefonies of per teksboodskap te bereik, was Woensdag onsuksesvol, maar ’n skermgreep doen die ronde waarin die vrou oënskynlik hul optrede verdedig. Pogings deur Netwerk24 om te bepaal of die boodskap eg is, was tot dusver onsuksesvol.

“Ons vra in die openbaar om verskoning vir hierdie voorval,” lui die plasing. Daar word beweer die hond het “na hulle gehap” en “het baie ernstige gedragsprobleme”.

Hierdie een is net ’n kort video, maar dit is nie die enigste wat wys hoe ons arme Hector herhaaldelik geslaan word nie.

Die boodskap, wat nou verwyder is, lui: “Volgens wet is dit nie reg om elke beweging, met of sonder die hond, af te neem en na ons gesprekke te luister nie. Dit maak inbreuk op ons privaatheid. Hulle het al ons gesprekke onwettig en sonder ons medewete opgeneem.”

Luidens gerugte het die paartjie Hermanus verlaat ná die reaksie op sosiale media. Hul het ook Woensdagmiddag hul profiele op Facebook gedeaktiveer, asook die blad vir hul onderneming.

Allan Perrins, hoof van die dierewelsynsvereniging van Suid-Afrika, sê die optrede in die video is “uiters ontstellend” en die video is “onweerlegbare getuienis” van mishandeling.

“In so ’n geval is die eerste ding wat ’n mens moet doen om die hond na ’n veearts te neem sodat bepaal kan word of daar tekens van mishandeling is, soos kneusing of wonde,” sê hy.

“Daar is ook nie net fisieke beserings wat in ag geneem moet word nie, maar ook die emosionele trauma wat die dier deurmaak. Daar kan gedragsverandering wees.”

Volgens Perrins is honde ongelooflik lojale, vergewensgesinde diere en al lyk hulle op die oog af goed, beteken dit nie dat alles wel is met die dier nie. Sielkundige kwessies kan later kop uitsteek.

“Hulle kan in die toekoms vreemdelinge byt of aggressief teenoor troeteldieroppassers wees. Hulle kan waarskynlik ook erge skeidingsangs kry,” sê Perrins.

Daar is ook nie net fisieke beserings wat in ag geneem moet word nie, maar ook die emosionele trauma wat die dier deurmaak. Daar kan gedragsverandering wees.

Hy raai mense aan om baie goeie navorsing te doen oor diereoppassers voordat hulle van hul dienste gebruik maak, veral omdat daar geen amptelike akkreditasie deur ’n professionele liggaam is nie.

“Dit is ’n baie ongelukkige voorval, want dit kan eerbare mense wat dié diens bied, baie skade berokken,” sê hy.

Hy waarsku ook dat mense nie die kort video bloot op sigwaarde moet neem nie, maar moet onthou dat daar altyd twee kante aan ’n saak is en dat die paartjie die reg het om hul saak te stel.

Meer oor:  Hermanus  |  Dbv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.