Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
4 keer meer boere ondersoek hervestiging elders

Is dit beter om jou plaas in Suid-Afrika op te gee en in ’n ander Afrikaland of selfs in Oos-Europa of Australië van nuuts af te begin?

Hettie Theron maal mielies op die plaas Green Label Farming waar sy en haar man naby Tbilisi in Georgië boer.

Al hoe meer Suid-Afrikaanse boere vra dié vraag aan organisasies wat boere met hervestiging help, is die afgelope week aan Rapport gesê, maar daar is gemaan dat boere nie alle sprokies oor die lewe oorsee moet glo nie.

“Die getal boere wat navraag doen oor hervestiging in ander lande het vervierdubbel,” sê Dirk Hanekom, uitvoerende hoof van Agri All Africa (AaA), wat landboubeleggings in Afrika uitwys en boere met hervestiging help.

“Ek kry tussen 150 en 200 oproepe per week van boere hieroor. Weens die ongekende belangstelling, moet ek deesdae met groter groeperings boere praat,” sê hy.

Hanekom sê die onteieningsdebat en gelaaide politieke uitsprake oor grondhervorming is die vernaamste redes waarom sommige boere so jeuk.

“In 2008 was daar sowat 1 000 kommersiële Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese boere wat in Afrika boer. Dit het sedertdien tot meer as 3 000 gestyg. Hulle boer nou al in 42 lande in Afrika,” sê hy.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van die Wêreld-landbou-organisasie, beaam dit. “Daar is ’n toename in boere wat belang stel om elders te gaan boer weens hul vrese dat hul grond weggevat kan word,” sê hy.

‘Rusland se landbou soos mafia bedryf.’

Boere soek goedkoop arbeid en dienste, staatsondersteuning, beleidsekerheid en lae veiligheidsrisiko’s – ’n ambisieuse wenslys.

Deon Lezar, ’n boer van Nigel wat sewe jaar gelede sy boerdery na die Kongo (Brazzaville) uitgebrei het, sê dit was aan die begin ’n gesukkel om met beperkte hulpbronne daar te boer. “Die land is nie goed ontwikkel nie en dit was glad nie ingestel op landbou nie. Dit het nie werklik ’n beleid oor invoere en uitvoere gehad nie. Ons het baanbrekerswerk saam met die regering gedoen om ’n beter beleidsraamwerk te skep.”

Volgens hom is daar al hoe meer Amerikaanse en Europese beleggers in die land wat hom vra om vir hulle te boer. “Daar is heelwat meer geleenthede vir boere, en dit raak nou al hoe makliker om daar sake te doen,” sê hy.

Lambert Theron, ’n boer van Middelburg wat ook ’n plaas in Georgië in Oos-Europa besit, sê hy het in 2013 besluit om daarheen uit te brei toe buitelanders nog grond daar kon koop.

“Ek het dit as ’n belegging gedoen, maar ook weens die onsekerheid oor my gesin se toekoms in Suid-Afrika. Ek het vooraf navorsing gedoen. In Georgië verdien jy hoë en belastingvrye rente op jou geld, terwyl jy in lande soos Argentinië swaar belas word. Jy het ook toegang tot Europese markte sonder voldoening aan die streng reëls van die Europese Unie,” sê hy.

Volgens hom was dit ’n goeie besluit. “Die waarde van my grond in Georgië het verdubbel en my vrou is mal oor die land.”

Hy weet van sowat 20 Suid-Afrikaanse boere wat daar boer.

“Die belangstelling het egter getaan nadat die land se regering sy beleid só verander het dat buitelanders nie meer grond daar mag besit nie,” sê hy.

Theron waarsku dat nie alle Oos-Europese lande vir Suid-Afrikaanse boere geskik is nie.

“Landbou in Rusland word soos ’n mafia bedryf en daar is altyd iemand aan wie jy ’n bedrag moet betaal om jou onderneming te kan bedryf. Jy word daar uitgehaal as jy nie betaal nie,” sê hy.

Sy waarskuwing volg nadat ’n Vrystaatse boeregesin ongelooflike mediadekking in Rusland gekry het toe hulle die moontlikhede daar vir hulle en nog sowat 30 ander plaaslike boeregesinne gaan ondersoek het. Die Russiese media het hulle by die lughawe ingewag en toe berig 15 000 Suid-Afrikaanse boere is op pad soontoe.

Die gesin het Maandag teruggekeer na Suid-Afrika. Jann Schlebusch, wat sowat 50 km buite Bloemfontein met Angus-beeste boer, sê hulle was vyf dae in Stawropol in die suidweste van Rusland en in Hongarye om hervestiging te ondersoek.

“ ’n Klomp joernaliste het ons by die lughawe ingewag. Ons het ’n paar mediakonferensies gehad wat glad nie beplan is nie,” sê hy. ’n Foto van die mediakonferensie wys die gesin het ’n vlag van die Oranje-Vrystaat (1857-1902) oor die lessenaar voor hulle gedrapeer.

“Ons het gepraat oor ’n vergunning om grond te mag koop; buitelanders mag nie grond besit nie.”

Hy sê Rusland is ’n opsie oor hul ekonomiese groei en die herlewing van Christelike waardes.

Data van die Wêreldbank wys Rusland se ekonomie groei tans teen minder as 2% per jaar.

Meer oor:  Landbou  |  Emigrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.