Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vinnige voet bring vir hom ’n gim-kontrak

’n Jong man van Bethal in Mpumalanga het ’n gimnasium-kontrak losgeslaan nadat hy die owerhede gehelp het om ’n verdagte vas te trek.

En al wat Ryno Rossi (34) gedoen het, was om net sy voet voor die man wat weggehardloop het, uit te steek.

Dié gebeure, wat op video vasgevang is, het verlede Woensdag op die sypaadjie buite die MFitness-gimnasium op die dorp afgespeel.

Rossi, ’n sweiser vir ATK Bakke, was in sy etenstyd op pad na die gimnasium om navraag oor tariewe te doen.

Voordat hy by die gimnasium ingegaan het, het hy gesien hoe twee mense wat in sy rigting hardloop, agternagesit word.

In die video sien ’n mens hoe Rossi op die sypaadjie nader aan die straat beweeg en wag. Die een persoon hardloop aan sy kant van die pad, terwyl die ander aan die oorkant is.

Die volgende oomblik tree Rossi vorentoe en steek sy voet uit voor die vlugtende man. Hy trek deur die lug voordat hy hard neerval. As hy dan opstaan om weer te hardloop, steek Rossi weer sy vinnige voet voor hom uit. Die man struikel nog ’n keer en ’n persoon in ’n bruin uniform slaag uiteindelik daarin om hom vas te trek.

Rossi sê hy het daarna net weggeloop en gaan doen waarvoor hy oorspronklik daar was.

Tot nou toe is dit nie duidelik waarom die twee mans gejaag is nie, sê Rossi.

Magda van Wyk, bestuurder van die MFitness-gimnasium in Bethal, Mpumalanga, oorhandig ’n gimnasium-kontrak aan Ryno Rossi (34).Foto: Verskaf

Hy sê hy het instinktief opgetree toe hy gehelp het om die een man vas te trek. Hy is nie seker of die ander een uiteindelik ook gevang is nie.

“Ek is bly ek kon help en sal dit weer doen,” sê Rossi, maar voeg by dat hy nie drome het om ’n polisieman te word nie.

Intussen het Magda van Wyk, bestuurder van MFitness-gimnasium, ’n jaar se gimnasium-kontrak en ’n oefenprogram vir Rossi aangebied.

“Ek het gevoel hy verdien ’n kontrak. Hy het aanvanklik niks gesê nie. Ek het dit net gesien toe ek die beeldmateriaal nagaan,” sê Van Wyk.

Rossi is dankbaar vir die geleentheid en sê hy wou hom nog altyd by ’n gimnasium aansluit. Hy wil net sy lyf sterk maak en goed lyk vir homself.

Hy was egter nog nie in die gimnasium nie, omdat hy nie vervoer het nie.

“Ek soek na ’n ou fiets om soggens te gaan gym en van daar af werk toe te gaan,” sê Rossi.

Hy woon op ’n kleinhoewe buite die dorp en is bang om gimnasium toe te loop omdat hy al in die oggendure aangeval is.

“Ná die aanval is my oë oop vir enige gevaar om my,” sê Rossi.

Meer oor:  Mpumalanga  |  Bethal  |  Verdagte  |  Owerhede  |  Vasgetrek  |  Help
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.